Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Beperk styging in tariewe só

Die verhoging van munisipale tariewe in die stad kan meer doeltreffend beperk word deur beter finansiële bestuur en interne kontroles.

Dít is die reaksie van die Vryheidsfront Plus op Stevens Mokgalapa, die burgemeester van die Tshwane-metro, se begrotingsrede verlede Donderdag.

Tswhane-inwoners moet hulle staal vir verskeie verhogings wat op 1 Julie in werking tree.

Die burgerregteorganisasie AfriForum is veral bekommerd oor die 12%-verhoging in die kragtarief en meen dat dit verbruikers se sakke gaan ruk.

Eiendomsbelasting styg met 6%, hoewel die eerste R150 000 van die eiendom se waarde nie belas word nie.

Die begroting is nie gemik op korttermyn-gewin nie, maar op volhoubaarheid en infrastruktuurontwikkeling.

Eiendomsbelasting is steeds die stad se grootste bron van inkomste met R7,5 miljard wat op hierdie wyse geïn word. Inkomste uit sanitasie en vullisverwydering beloop R2,8 miljard.

Ander stygings wat op 1 Julie in werking sal tree, 8% op sanitasie en 6% op vullisverwydering.

“Ons doel is om tariewe bekostigbaar te hou, maar hoër tariewe wat die metro aan Eskom en Rand Water moet betaal, is buite ons beheer,” sê Mokgalapa.

“Die begroting het vir hierdie hoër tariewe van verskaffers voorsiening gemaak.”

Tshwane se totale begroting vir 2019-’20 is R39,7 miljard en volgens Mokgalapa is die begroting opgestel om die armste mense in die stad te prioritiseer.

“Armoedevlakke is hoog en daar is verskeie uitdagings wat infrastruktuur betref wat oorkom moet word,” sê Mokgalapa.

“Kabeldiefstal het steeds ’n negatiewe uitwerking op die volhoubaarheid van onderneming. Ons moet ook erken dat die invordering van tariewe ’n uitdaging bly. Die onus is op ons om die publiek in te lig oor die redes hoekom dit belangrik is om tariewe te betaal.”

Die begroting sluit R5 miljard vir water en sanitasiedienste in. Hiervan is meer as R500 miljoen vir die suiwering van water, opgradering en instandhoudingsprojekte van die waternetwerk begroot.

Die begroting vir gesondheidsorg sluit onder meer R14,4 miljoen vir MIV-behandeling, R35,5 miljoen vir dwelm- en ander verslawings en R2 miljoen vir die verskaffing van medisyne in.

Wat gemeenskapsinisiatiewe aanbetref word R8 miljoen vir vroeëkinderontwikkeling, R4,9 miljoen vir die voedselbank en R6,1 miljoen vir sport en gemeenskapsbiblioteke begroot.

Awie Erasmus, VF Plus-raadslid, sê die begroting lyk goed, maar wanbesteding pla.

“Die begroting is nie gemik op korttermyn-gewin nie, maar op volhoubaarheid en infrastruktuurontwikkeling,” sê hy.

“Die VF Plus sal seker maak die beplanning word sinvol uitgevoer. Ons voel ook dat meer gedoen kan word om tariewe in die toekoms te verminder deur beter finansiële bestuur en interne kontroles.

“Die ekonomiese klimaat waarin Suid-Afrika homself tans bevind, vergemaklik glad nie die situasie nie. Die koalisie van regerende partye het ook ingestap met ’n tekort van R1,4 miljard wat die ANC nagelaat het wat groot nagevolge gehad het.”

Die VF Plus waarsku egter dat dit nie net gaan oor die toewysing van geld aan departemente nie, maar of amptenare die geld op ’n wettige wyse bestee.

AfriForum beaam wat Erasmus sê.

“ ’n Begroting is net so goed soos wat dit geïmplementeer word,” sê Lambert de Klerk, distrikskoördineerder vir AfriForum in die groter Pretoria-Suid-omgewing.

“Die tariefverhogings is ’n groot bekommernis. Dit is duidelik dat die 12%-verhoging in die kragtarief verbruikers gaan ruk, al is dit laer as die 13,07% wat Nersa goedgekeur het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.