Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Betogers maak paaie in Kimberley toe

Ontevrede inwoners het Maandagoggend sommige hoofpaaie in Galeshewe en Roodepan in Kimberley met klippe, boomtakke en ander hindernisse versper.

Van die betogers is in hegtenis geneem, terwyl ander na bewering deur rubberkoeëls beseer is.

Barklyweg naby Roodepan en Leratopark is ook deur voorwerpe versper. Foto: Facebook

Lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê nege mense is in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld.

“Die polisie het skokgranate gebruik om ’n groep van sowat 100 mense uiteen te jaag. Die mense het die R31 en paaie in Roodepan met brandende bande, boomtakke en rotse versper.

“Die openbare-orde-eenheid en misdaadbekampingseenhede is op die toneel om die situasie dop te hou,” sê Mooi.

Betogers staan in Barklyweg naby die departement van onderwys by brandende voorwerpe.

Die betoging is deel van die inwoners se “blackout”, waarin toegange na en van Kimberley toegemaak word omdat diensleweringsprobleme nie opgelos word nie.

Die ontevredenheid volg op verlede week se twee vergaderings, wat ure lank geduur het, tussen dr. Zamani Saul, premier, sommige LUR’e en die munisipale bestuur met leiers van die Verenigde Gemeenskap van die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Die gegriefdes, wat die Kimberley Action Group, die belastingbetalersvereniging en inwoners van etlike woonbuurte insluit, het twee weke gelede ’n griefskrif aan die premier oorhandig waarin hulle onder meer eis dat Patrick Mabilo, burgemeester, van sy amp onthef word, die burgemeesterskomitee ontbind word, en dat Boy Dhluwayo, waarnemende stadsbestuurder, en Phetole Sithole, waarnemende direkteur van infrastruktuur, met gekwalifiseerde en bekwame amptenare vervang word.

Betogers het ook St. Paulsweg in Colville versper.

Saul se reddingsboei van R500 miljoen om infrastruktuur te herstel, het nie beïndruk nie omdat inwoners die deursigtigheid daarvan betwyfel.

Saul het hierop gesê sy provinsiale taakspan is besig om 'n werkskedule saam te stel “wat ons openbaar sal maak”.

“Inwoners moet besef die werk kan nie oornag geskied nie.

“Ek versoek die gemeenskap om kalm te bly en die regering te vertrou omdat ons oop en eerlik is oor die wyse waarop ons noodgevalle hanteer en hoe die herstelwerk gedoen gaan word.”

Volgens Saul is sy belangrikste oogmerk om diensleweringstandaarde te verbeter en die stad reg te ruk.

Boyce Makodi, een van die gemeenskapsleiers, sê hulle het geen bevredigende antwoorde in die vergaderings gekry nie, vandaar die betoging. Die ontevredenes eis steeds dat pres. Cyril Ramaphosa ingryp om Kimberley reg te ruk.

“Ons optog in Barklyweg na die stadskern was vreedsaam. Die polisie het sonder waarskuwing op ons begin skiet op die hoek van Pnielweg en Cecil Sussmanstraat. Ons het weggehardloop. Ek weet van een vrou, ene Charmaine, wat in haar nek deur ’n rubberkoeël getref is. Ander mense is in hegtenis geneem. Benewens Barklyweg is die R31 na Barkly-Wes en die R357 na Douglas vir ’n kort rukkie toegemaak.”

Barkleyweg is heeltemal deur rotse, gebreekte bottels en ander voorwerpe versper.

Hy sê die groep van tot 300 mense wat teen 11:00 weens polisie-optrede uitmekaar gespat het, het beplan om later by die Shoprite-winkelsentrum in Barklyweg te hergroepeer.

Intussen sê Sello Matsie, munisipale woordvoerder, dat hul werkers weens vrees vir hul veiligheid nie waterkleppe in Roodepan kan oopdraai om watertoevoer te herstel nie.

“Ons het die polisie versoek om ons te vergesel. Dit is kommerwekkend dat paaie in Galeshewe en Roodepan toegemaak is en dat informele delwers ook die R64-pad na Boshof toegemaak het.

“Ons versoek gemeenskapslede om nie te betoog nie en ons toe te laat om die onderhandelinge van verlede week voort te sit. Die munisipaliteit sou sy planne om diensleweringsprobleme op te los, aan die gemeenskap voorlê. Ons vra by voorbaat om verskoning dat ons weens die betoging nie vullisverwydering kan doen nie. Ons benadruk dat ons saam met die provinsiale owerhede daaraan toegewy is om die probleme op te los.”

Saul het sy verontwaardiging oor die protesaksie en “onverantwoordelike gedrag” uitgespreek. “Ons pleit vir geduld en samewerking. Die gemeenskap moet besef opknapping aan die infrastruktuur kan nie binne ’n week voltooi word nie. Dit is verregaande dat mense roekelose en vals gerugte versprei dat die R500 miljoen wat aan die opknapping infrastruktuur gegee, wanbestee gaan word.

“Die polisie moet teen wetteloosheid optree. Ek vra om verskoning aan die gemeenskap, wie se lewe ontwrig is.”

Meer oor:  Dr. Zamani Saul  |  Kimberley  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.