Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Beweerde Covid-bedrog in Potch is ‘skreiend, gewetenloos’

Die DA verwelkom dit dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) die pensioenfonds van Modiko Selemane, ’n voormalige verkrygingsbestuurder in die J.B. Marks-munisipaliteit in Noordwes, bevries het.

Chris Hattingh, die party se kiesafdelingshoof in dié munisipaliteit wat die gebiede Potchefstroom en Ventersdorp bedien, het gesê die DA het reeds in April vanjaar sy kommer oor Covid-19-verwante besteding in die munisipaliteit uitgespreek.

Kaizer Kganyago, woordvoerder vir die SOE, het in ’n mediaverklaring bekend gemaak dat Selemane se pensioenfonds bevries word totdat die eenheid se siviele optrede teen hom afgehandel is.

“Die spesiale tribunaal het ingestem om sy pensioengeld te bevries nadat ons vasgestel het dat Selemane na bewering by verskeie onwettige bedrywighede met die verkryging van persoonlike beskermende toerusting as deel van die J.B. Marks-munisipaliteit se Covid-19-reaksiestrategie betrokke was.”

Selemane kon nie vir kommentaar bereik word nadat die SOE hom geïdentifiseer het nie. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra hy reageer.

Volgens Kganyago sluit die aantygings teen Selemane onder meer in die beweerde onwettige aanstelling van verskeie diensverskaffers wat beskermende produkte verskaf en afgelewer het, asook die onwettige goedkeuring van betalings.

Selemane het bedank nadat die munisipaliteit hom ingelig het dat hy geskors gaan word, sê Kganyago.

“Ons gaan voort met siviele optrede teen hom.”

Hattingh is ten gunste van die voortgesette siviele optrede omdat dit kan help om verlore belastingbetalersgeld te herwin.

“Die DA se vrae oor Covid-19-besteding in J.B. Marks op ’n vergadering van die provinsie se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) is met die gebruiklike driftige ontkennings en verontwaardiging begroet. Daar is egter deeglik op provinsiale vlak deeglik van die gebeure in die J.B Marks-verkrygingsprosesse kennis geneem.

“Selemane het nie alleen gewerk nie. Die DA verwag dus nog stappe, soos die verdere verhaling van belastingbetalersgeld.”

Hattingh het gesê dié besteding van die Covid-19-geld is ’n “skreiende en gewetenlose misdryf ten koste van mense in ’n lewensbedreigende pandemie”.

Volgens hom sal die DA voortgaan om dié praktyke meedoënloos bloot te lê en toe te sien dat “misdadigers en hul netwerke ontmasker én vervolg word”.

Die SOE het vroeër gesê dat hy beweerde bedrog en korrupsie met R11,4 miljoen se Covid-19-geld in J.B. Marks ondersoek. Vyf voorvalle word ondersoek.

Moontlike ongerymdhede by die inrig van die kwarantynsentrum by die Potchefstroom-Dam word ook ondersoek.

Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, het gesê die munisipaliteit ondersteun die SOE en ander wetstoepassers “ten volle om diegene wat hulle skuldig maak aan ongerymdhede tot verantwoording te roep, asook om gesteelde geld van die publiek terug te kry”.

“Ons sal ons samewerking met die ondersoek gee, maak nie saak wie betrokke is nie. Die reg moet sy gang gaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.