Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bfn-sloerstakers spring in ná belofte van oortydbetaling

’n Rommelbestrooide Bloemfontein word ná munisipale werkers se sloerstaking van vier dae skielik skoongemaak nadat die groen lig Vrydag gegee is dat hulle 60 uur se oortydbetaling gaan kry.

Hope vullis het Vrydag op sypaadjies bly lê omdat die Mangaung-metro se munisipale werkers op ’n sloerstaking oor oortydbetaling was. Foto: Mlungisi Louw

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder van die Mangaung-metro, het by navraag gesê met die werkers is ooreengekom vir 60 uur oortyd vir Oktober, en nie 100 uur soos werkers aan Netwerk24 vertel het nie.

Mea sê hy kan nie gehoor gee aan eise van munisipale werkers wat tot 200 uur se oortydvergoeding per maand wil hê nie.

“Ek het ’n verantwoordelikheid om die gemeenskap se geld billik en verantwoordbaar te bestuur. Van die werknemers wil nie in gewone kantoorure werk nie, maar net ná ure sodat hulle oortydbetaling kan eis.

“Ek kan ook nie toelaat dat werknemers hulle oorwerk deur maand ná maand 200 uur oortyd te werk nie.”

Mea sê raadslede en die ouditeur-generaal (OG) wil voortdurend by hom weet waarom oortydbetaling in die metro handuit ruk.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het bevestig dat die munisipale werkers Vrydag begin werk het nadat personeel van die vullisverwyderings- en vlootafdeling, van water en sanitasie, asook van die Bloemfonteinse dieretuin en die parke-afdeling, bykans die hele week op ’n sloerstaking was.

Khedama het gesê die metro kan nie die oortydbetaling bekostig wat die werkers vra nie, maar kan net betaal waaroor volgens arbeidsregulasies ooreengekom en waarvoor begroot is.

Khedama sê dit is veral belangrik dat Bloemfontein skoon moet lyk tydens Macufe (Mangaung African Cultural Festival) wat Vrydag begin het en nege dae duur, terwyl mense van oor die land heen, en selfs van buurlande, vir die kultuurfees en ’n sokkerwedstryd na Bloemfontein stroom.

Dirk Kotzé, DA-raadslid, sê hy word oorval met klagtes van Bloemfonteiners wat baie ontevrede is oor die vuil stad en dat munisipale dienste, soos die herstel van riool-oorlope, -verstoppings en waterlekke, eenvoudig nie gelewer word nie.

“Mense se huis- en tuinvullis is ook nie vandeesweek opgelaai nie en hope swart sakke het bykans ’n week lank op sypaadjies gestaan en vrot. Volgens ’n kennisgewing sou daar ook nie Donderdag en Vrydag voertuie hiervoor beskikbaar wees nie.”

Kotzé sê gebeurlikheidsplanne moet gereed wees vir wanneer werkers staak of met ’n sloerstaking besig is. Dit bestaan nie. Die diens moet gelewer kan word, al staak die werkers.

Bloemfontein is tog die geregtelike hoofstad van Suid-Afrika en die meeste van die politieke partye, insluitend die ANC, is hier gestig.

Hy wil weet of die metro se topbestuurders te midde van die swak dienslewering in Mangaung vanjaar prestasiebonusse gekry het.

Rossouw Botes, ook ’n DA-raadslid, sê dit bly ’n skande hoe Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, en die munisipale amptenare optree terwyl Macufe Vrydag amptelik begin het.

“Bloemfontein is tog die geregtelike hoofstad van Suid-Afrika en die meeste van die politieke partye, insluitend die ANC, is hier gestig.”

Hy sê dit is ook skokkend dat raadslede nie ingelig word oor die stand van dienslewering, soos vullisverwydering, wanneer daar sloerstakings is nie.

“Raadslede moet by die Bram Fischer- munisipale gebou vir inligting gaan smeek om kiesers ingelig te hou.”

Hy sê die metro gaan by die minuut agteruit en die getroue belastingbetalers moet maar kyk hoe alles voor hul oë tot niet gaan.

Meer oor:  Adv. Tankiso Mea  |  Bloemfontein  |  Mangaung  |  Rommel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.