Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bfn steier onder Samwu-staking
Drinkwater word in die donker en onder polisiebegeleiding vir Jerusalem se inwoners by Tierpoort naby Bloemfontein aangery.
“Rioolvuil borrel op straathoeke uit soos lawa uit ’n vulkaan,” sê moedelose raadslede van Bloemfontein. Dave McKay, DA-raadslid, sê die mangat op die hoek van Kwagga- en Springbokstraat in Fauna het vir ’n week lank oorgeloop.
By Frans Smit se huis in Koedoeweg het die rioolvuil ’n week lank etlike sentimeters diep gestaan.

Bloemfonteiners steier onder munisipale diensleweringsprobleme met munisipale werkers verbonde aan die munisipale werkersvakbond Samwu wat reeds 15 dae lank staak.

Die rioolvuil borrel by vier plekke soos “lawa uit vulkane” in strate af, sê Dave McKay, DA-raadslid, terwyl die twee stortingsterreine “gevaarlike neste word”. Albei terreine het Dinsdag weer gebrand.

“Vullissakke lê die wêreld vol en Bloemfontein word ’n stinkende vullishoop,” sê ’n inwoner, wat anoniem wil bly. Glory Twala, hoofbestuurder van die stad se vaste-afval-afdeling, sê sy mag nie amptelik kommentaar lewer nie.

Qondile Khedama, hoofbestuurder van kommunikasie, is ook daaroor uitgevra, maar het die afgelope 15 dae nie een keer Netwerk24 se vrae oor die staking beantwoord nie.

McKay sê die dik rookwolke van die suidelike stortingsterrein wat Dinsdag oor die Ferreira-kleinhoewes gehang het, het veroorsaak dat minstens drie inwoners met asma in die hospitaal beland het.

Kobus Labuschagne, ’n inwoner, sê sy stem is omtrent heeltemal weg nadat hy die rook ingeasem het terwyl hy geslaap het. “Ek sal ook hospitaal of dokter toe moet gaan.”

McKay sê hy het sedert die staking begin het, gehelp om water te voorsien aan die sowat 300 inwoners van Jerusalem, ’n nedersetting by Tierpoort, wat deel is van die metro.

“Water is ’n basiese reg en die metro moet drie keer per week vir dié inwoners water aanry, maar tydens die staking word dit nie gedoen nie.”

“Ek het water wat ons by ’n barmhartige Samaritaan van Dewetsdorp gekry het, onder polisiebegeleiding vir die inwoners van Jerusalem in die donker laat aanry. Daar is drie JoJo-watertenks elk met ’n kapasiteit van 5 000 liter.”

McKay sê Jerusalem se inwoners het geen lopende water, elektrisiteit of titelaktes bekom sedert die regering die stuk grond in 2002 vir hulle gegee het om op te woon nie.

“Hoewel daar vyf boorgate in die omgewing is, is daar ook geen pompe aangebring wat die water kan uitpomp nie.”

Frans Mabe, ’n inwoner van Jerusalem, sê die water wat aangery is, gaan net tot Vrydag hou. “Ons sukkel om genoeg water te kry tydens die staking.”

Herhaalde oproepe na adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, het onbeantwoord gebly. Later het ’n vrouestem op sy selfoon gesê hy is in vergaderings.

Rossouw Botes, nog ’n DA-raadslid, sê die noordelike stortingsterrein is Sondagaand aan die brand gesteek en die telefone hou nie op lui soos inwoners kla oor die rook nie.

“Ons het tot oproepe uit die Oubos-landgoed gekry. Billy Barnes, waarnemende hoofbestuurder van die nooddienste in die metro, sê hy gaan ook omsien na die brande by die noordelike vullisstortingsterrein. Ek het voorgestel dat ’n lagie grond gegooi moet word om die brande te blus, want water veroorsaak metaangas wat skadelik kan wees.”

Selmé Pretorius, DA-raadslid, sê daar is rioolvuil wat al drie weke lank in haar wyk aan die noorde van Bloemfontein uitloop en in damme kan beland.

“Om diens by die metro gedurende die staking te kry is ’n frustrasie. Ek het te make gehad met ’n vrou wie se man oorlede is en wie se voorafbetaalde kragmeter gebreek het. Centlec, elektrisiteitsvoorsiener van die metro, het tog gehelp dat ons die probleem ná ’n dag kon oplos.”

Intussen het prof. Elizabeth Snyman van Deventer, stadsraadslid van die Vryheidsfront Plus, ’n foto gestuur van die ANC-raadslid Thabo Olivier wat help om bale voer oor die draad van die kampe in die Bloemfonteinse dieretuin aan te gee. “Mense werk baie oortyd,” sê sy.

McKay sê by ’n huis in Koedoeweg in die buurt Fauna het die rioolvuil vir ’n week lank etlike sentimeters diep in die voortuin gelê.

Die huiseienaar, Frans Smit, sê die stank het in sy huis ingetrek. “Dit was vreeslik. Ons raadslid het ons met ’n private kontrakteur gehelp, en so kon ons uiteindelik die probleem oplos. Die metro gee net ’n verwysingsnommer en sê agterna hy kan niks doen nie, want sy werkers staak.”

Op die hoek van Kwagga- en Springbokstraat in Fauna het rioolvuil ook vir ’n week lank uit ’n mangat gestroom en het dit volgens McKay soos “lawa wat uit ’n vulkaan borrel”, gelyk.

“By die Laerskool Onze Rust, by ’n huis in Genl. Scheeperslaan in die Genl. de Wet-woonbuurt en ook by ’n huis in Koedoeweg in Fauna is ernstige rioolprobleme opgelos,” sê hy.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Samwu  |  Ekonomie  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.