Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bielie-watertenkwa 1ste in SA om brande te bestry

’n Bielie van ’n watertenkwa, die eerste van sy soort wat in Suid-Afrika wat vir brandbestryding gebruik sal word, is in die George-munisipaliteit in die Suid-Kaap in gebruik geneem.

Die nuwe watertenkwa en draagbare dam.

Die watertenkwa van 35 000 liter, asook ’n draagbare dam wat 14 000 liter water kan hou, is vandeesweek bekend gestel.

Volgens die George-munisipaliteit sal dié nuwe toerusting sy brandweerdiens van groot hulp wees.

George en die omliggende gebied is in Oktober en November 2018 deur veldbrande geteister. Talle van die brande het ver van brandweerstasies of toeganklike waterbronne ontstaan, sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

Volgens Neels Barnard, George se brandweerhoof, is daar in min munisipaliteite in die land so ’n diverse terrein soos in die George-gebied. Van halfwoestyngebiede noord van die Outeniekwaberge tot bergagtige dele en groot gedeeltes landbougrond, denneplantasies, inheemse bosse en lang, ontoeganklike paadjies wat dorpe oor lang afstande verbind, kom daar voor.

Volgens die munisipaliteit sal die tenkwa gebruik kan word waar brandweerwaens met water opgevul moet word.

Die tenkwa is 18 m lank en is deur CA Muller-tenkwa-bouers van Wellington teen R2,4 miljoen gebou.

Die draagbare dam is een van net drie in Suid-Afrika en die eerste van sy soort in die Suid-Kaap. Net die Weskus-distriksmunisipaliteit en die Kaapse metro beskik ook oor so ’n dam.

Volgens die munisipaliteit is die dam ’n kunsmatige waterbron waaruit ’n helikopter kan water skep of brandweerwaens opgevul kan word.

’n Helikopter van Werk met Vuur (WoF) skep Dinsdag water uit die draagbare dam wat met water uit die nuwe watertenkwa volgemaak word.

Die dam is deur Ark Inflatables in Kaapstad teen R28 000 vervaardig.

Barnard sê die nuwe toerusting sal ’n massiewe verskil maak in die eerste uur van ’n brand wanneer dit noodsaaklik is om die brand onder beheer te kry en die kanse beter is om mense en eiendom te red.

Volgens Melvin Naik, George se burgemeester, het verlede jaar se brande almal groot laat skrik. Waardevolle landbougrond, hout en ’n aanleg waar hout verwerk word het verlore gegaan. Dit het werksgeleenthede en mense se lewensbestaan beïnvloed.

“Die oorsprong van verlede jaar se brande was aan die Klein-Karoo-kant van die Outeniekwaberge en het beweeg na gebiede met baie min waterbronne,” sê hy.

“Ons besef dinge kon dalk anders gewees het as ons die regte toerusting gehad het.

“Ons is trots om die eerste in Suid-Afrika te wees om die tenkwa én dam te gebruik, en glo dit sal ’n verskil maak.”

Meer oor:  Water  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.