Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloem: Nog ’n protesoptrede beplan

Die Mangaung Community Concern (MCC)-groep, wat Bloemfontein onlangs “gesluit” het met ’n gewelddadige protesoptrede waarin ’n 15-jarige seun doodgeskiet is, beplan ’n tweede protesaksie.

Hierdie keer word daar behoorlik “oorlog verklaar” teen korrupsie, onbekwaamheid en die nielewering van munisipale dienste.

Themba Zweni en Motlatsi Mokgatla van die MCC sê in ’n gesamentlike verklaring hul onderhandelaars het onderhandel met die regering se taakspan, onder leiding van Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.

“Ons het vir hom gesê ons is teleurgesteld met sy regering en hoe ons as die MCC sy weiering om die raad van die Mangaung-metro-munisipaliteit te ontbind ervaar. Dit is vir ons duidelik dat die regering arrogant is en nie omgee oor wat die inwoners sê nie.”

Betogers het onlangs in Bloemfontein skade aangerig toe vure orals gestig en paaie gesluit is. Foto: Mlungisi Louw

Zweni en Mokgatla sê op 17 Mei het van die inwoners van Mangaung op ’n verwoestende staking gegaan wat daartoe gelei het dat Liam Siegel (15) sy lewe verloor het. Talle mense is ook in hegtenis geneem.

“Hoewel baie van hulle vrygelaat is, is ons medeleier van die groep steeds in aanhouding.”

Zweni sê hulle het die eerste protesoptrede ná drie dae opgeskort en hulle tot onderhandelings met die regering verbind.

Hulle het aan Sisi Ntombela, die premier, geskryf en haar 12 uur gegee om die metroraad te ontbind.

“Sy het net ontvangs van die brief erken.”

’n Week nadat agt adjunkministers die metro besoek het om die Mangaung se distriksontwikkelingsmodel bekend te stel en beloof het om iets omtrent die pleidooie van die inwoners van Mangaung te doen – soos uiteengesit deur 28 afgevaardigdes van verskillende vennootorganisasies – het daar niks gebeur nie.

Hulle het ook met die ANC se tussentydse Vrystaatse taakspan vergader nadat die premier “haar hande in die lug gegooi” en gesê het dat sy politieke steun benodig.

“Hulle het gesoebat vir ons toegeeflikheid, maar nou amper ’n week nadat ons met hulle vergader het, is die metroraad nog nie ontbind nie.”

Veiligheidspersoneel in Bloemfontein help hier iemand tydens die onluste in Mei by Central Park. Foto: Mlungisi Louw

Hulle sê die Mangaung-munisipaliteit is steeds leierloos. “Die metro het geen burgemeester en geen adjunkburgemeester nie en ’n raadslid neem onwettig as burgemeester waar. Mangaung het ook geen stadsbestuurder nie, maar ’n waarnemende stadsbestuurder.”

Hulle gaan nie verder met die Vrystaatse regering onderhandel nie.

“Ons eis die onmiddellike ontbinding van die raad.”

Hulle dreig dat wanneer hulle op 1 Julie met die volgende massa-aksie begin, dit net sal ophou wanneer die raad ontbind is.

Hulle vra ook dat alle kontrakteurs hul werkers by projekte van die metro sal wegvat wanneer dit gebeur.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-raadslid, sê in reaksie hierop diegene wat weer met ’n protesaksie wil begin, misbruik die prosesse.

“Hulle het nie simpatie met die ekonomiese skade wat hulle deur hul optrede aanrig nie, hoewel ’n mens hul griewe en klagtes kan verstaan omdat almal onder swak dienslewering gebuk gaan en gefrustreerd is.”

Nxangisa sê daar word heeltyd na die MCC en sy vennote geluister.

“Ons kan nie net die Mangaung-raad ontbind nie. Dit is ’n wetgewende proses.”

Hulle het gevra dat die mense nie weer die roete van ’n protesaksie moet volg nie omdat mense hul werk kan verloor as ondernemings weer gedwing word om te sluit.

“Kinders moet ook skool toe kan gaan.”

Inwoners van Gatvol in Heidedal het ook in Mei aan die staking oor swak dienslewering deelgeneem. Foto: Argief

Volgens hom is daar aan baie probleme in die metro aandag gegee.

“Daar is ontslae geraak van die stadsbestuurder, wat ’n groot struikelblok was.

“Die metro het ook sy oudit-uitkomste na ’n ongekwalifiseerde oudit met bevindings verbeter.”

Volgens hom is daar ook nou brandstof vir die voertuie waarmee dienste gelewer word.

Brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê hy kan nie in dié stadium kommentaar lewer nie “omdat die saak nog nie relevant vir die polisie geword het nie”.

Hulle praat tans met die regering.

Hy het bevestig dat ’n 15-jarige seun in die vorige protesaksie dood is, maar kon nie bevestig dat van die buitelanders dood is wie se winkels geplunder is nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Protesoptrede  |  Dienslewering  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.