Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloem se krane voorlopig weer oop

Die waterkrane is weer wawyd oop in Bloemfontein en omliggende gebiede wat in die Mangaung-metro se bedieningsgebied val nadat die beperkings wat sedert Sondag geld, deur ’n voorlopige hofbevel opgehef is.

Vir hoe lank die krane nog vol water gaan wees, is egter onseker.

Op 19 September pak die metro en Bloemwater mekaar weer in die Vrystaatse hooggeregshof oor die watertoevoer.

Dit sal dan waarskynlik die vierde regter die afgelope twee maande wees wat oor dié kwessie moet beslis.

Intussen is dit die belastingbetaler wat vir die regskoste moet opdok. Die voortslepende dispute tussen die metro en Bloemwater oor wie vir wie geld skuld en hoeveel dit is, is al sedert 2016 steeds nie opgelos nie.

Bloemwater beweer die metro skuld hom sowat R449 miljoen. Die metro sê weer hy glo Bloemwater skuld hom R329 miljoen.

Waarnemende regter Johannes Moeng het Dinsdag in ’n voorlopige bevel gelas dat Bloemwater die volle toevoer na die metro dadelik moet herstel en nie mag beperk voor die afhandeling van dié dringende aansoek van die metro nie.

Bloemwater sal op 19 September die metro se aansoek om die bekragtiging van die voorlopige bevel teenstaan.

Tankiso Mea, stadsbestuurder van die metro, sê in ’n hofverklaring sedert Bloemwater die toevoer Sondag tot 30% beperk het, is veral Fauna, Pellissier, Lourierpark, Bainsvlei, Universitas en Langenhovenpark geraak.

Van die huishoudings het sedertdien geen water nie.

Hy sê ná die vorige hofbevel is Bloemwater nie geregtig om beperkings in te stel nie en minag die waterraad dié bevel.

Die raadsvoorsitter van Bloemwater, Bernard Phitsane, en die uitvoerende hoof, dr. Limakatso Moorosi, is juis in die aansoek bygevoeg om te kom verduidelik hoekom Bloemwater die bevel verontagsaam.

Adv. Stefan Grobler SC het namens Bloemwater betoog dit is duidelik dat die metro nie so seker is dat dit minagting is nie, want die metro neem die kwessie niks verder as ’n skimp in dié rigting nie.

Bloemwater se standpunt is dat dit die metro se plig is om te verseker dat sy inwoners water beskikbaar het.

Adv. Tiaan Pienaar het namens die metro betoog die grondwetlike regte van die mense word aangetas deur hulle water te ontsê.

Pienaar is deur adv. Mosioa Mazibuko bygestaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.