Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloem se vullisverwydering knars tot stilstand

Vullisverwydering het in dele van Bloemfontein tot stilstand gekom omdat daar blykbaar net een werkende vragmotor beskikbaar is om vullis in die middestad en noordelike woonbuurte te verwyder.

Die gevolg is dat rommel oral op sypaadjies, buite woonstel- en meenthuiskomplekse, by private wonings en voor sakeondernemings ophoop.

So lyk Bloemfontein se straathoeke nou.Foto: Charles Smith

Vullisverwyderaars van die Mangaung-metro beweer dat daar nou net een vragmotor tot hul beskikking is om die hele sentrale gedeelte en die noordelike voorstede skoon te maak. Boonop is hul oortydbetaling tydelik gestaak.

Soortgelyke logistieke probleme word glo ook elders in die metro ondervind. Dit sluit Botshabelo, Thaba Nchu, Soutpan, Wepener en Vanstadensrus in.

“Chaos het oral uitgebreek,” sê die werkers.

Geen kommentaar kon Woensdag van die metro verkry word op dié beweringe nie.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, is volgens haar sekretaris in Johannesburg by pres. Cyril Ramaphosa se internasionale beleggingskonferensie om vir die Rosestad beleggings te probeer werf.

Tankiso Mea, stadsbestuurder, en Sello Moré, hoof van die departement van vullisverwydering, het nie Woensdag hul fone beantwoord nie.

Werkers in Moré se afdeling, wat op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat het, kla oor die onpadwaardigheid van die munisipale voertuie.

“Sommige voertuie is ook nie gelisensieerd nie, terwyl bestuurders ook in baie gevalle nie oor die nodige rybewys beskik nie.”

Werkers sê hulle weier om op die onpadwaardige voertuie van die metro te klim.

Die vullisverwyderaars sê hulle beplan ook nou hoe om Mea, wat glo volstrek weier om met hulle te praat, uit sy amp te lig soos wat hulle met ’n vorige stadsbestuurder, wyle Sandile Msibi, gemaak het.

Dit kom nadat Mea verlede week in antwoord op ’n DA-navraag gesê het dat 36 van die 56 vulliswaens van die metro vir herstelwerk gestuur is en dat 11 hiervan afgeskryf moet word. Mea het toe gesê daar is net 20 vragmotors wat al die vullis in die hele metro moet oplaai.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid, sê baie gebiede in en om Bloemfontein het die afgelope 21 dae nie ’n vullisverwyderingsdiens gehad nie.

“Dit is ’n direkte oortreding van die Grondwet en die wetgewing oor vullisverwydering.”

Van der Walt sê die feit dat vullis nie stiptelik en volgens skedule verwyder word nie, is ’n ernstige probleem wat ook verreikende gesondheidsgevolge vir inwoners kan hê.

“Die vertraging veroorsaak dat broeiplekke vir rotte en ander peste geskep word. Die vullis sal uiteindelik ook die stormwater-dreineringstelsel blokkeer. Dit sal ’n baie nadelige uitwerking op die water- en rioolinfrastruktuur hê wat reeds swak in stand gehou word.”

Van der Walt doen ’n beroep op gemeenskappe, insluitend kerke en skole, om “kollektief te organiseer om vullis in hul onmiddellike omgewing te bestuur”.

Van der Walt sê in dié stadium weet hy van twee sakeondernemings wat met hul eie vragmotors vullis begin verwyder het.

Baba Sebolao, EFF-raadslid, sê die metro funksioneer nie meer nie en “moet nou maar ineenstort”.

“Dit is hoog tyd dat die provinsiale en nasionale regering ingryp en ’n nuwe munisipaliteit met ander mense op die been bring.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.