Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloem se water gesny terwyl twis voortwoed

Terwyl Bloemwater en die Mangaung-metro twis en mekaar oor en weer beskuldig en dreig, ly diegene wat hul salarisse betaal – die belastingbetaler – daaronder.

Dít blyk uit twee mediaverklarings van dié twee instansies se woordvoerders waarin hulle sê Bloemwater het sy watertoevoer na alle dele van die Mangaung-metro se bedieningsgebied tot 30% verminder.

Dié vermindering van watertoevoer sal tot verdere kennisgewing voortduur, sê Bloemwater se Kido Thoabala.

Qondile Khedama van die metro sê in ’n verklaring dat dié nuutste vermindering van die watertoevoer kom weens die voortslepende dispuut tussen die twee instansies.

“In ons volgehoue pogings om te verseker dat die inwoners van Mangaung nie weens ’n voorkombare twis tussen ons en ons diensverskaffer (Bloemwater) ly nie, sal die stad onder meer weer die hofbevel wat ons (verlede week) teen Bloemwater verkry het, herbesoek.”

Hy sê watertenks is na al die gebiede wat reeds geraak is, gestuur. “Ons besef watter ellende dié dispuut vir lede van die gemeenskap veroorsaak.”

Hy verseker die inwoners dat die metro alles in sy vermoë doen om hulle as belastingbetalers van die gevolge van die dispuut vry te stel.

Thoabala beskuldig die metro daarvan dat hy nie hou by ooreenkomste wat hy in ’n bemiddelingsproses in Julie met Bloemwater aangegaan het nie. Die metro het nie sy waterrekenings betaal nie, soos hy onderneem het.

Desondanks het Bloemwater steeds water teen volle kapasiteit aan hom verskaf. Dié situasie het egter vir Bloemwater onhoudbaar geword en hom met “geen ander keuse nie gelaat” as om die watertoevoer te verminder.

“Dit sal veroorsaak dat nie alle inwoners van die metro toegang tot lopende water sal hê nie en dat die waterdruk laag sal wees.”

Omdat die metro nie sy skuld betaal nie, plaas dit Bloemwater in ’n moeilike posisie om sý verpligtinge na te kom.

Khedama hou egter vol dat die metro volgens die ooreengekome plan maandeliks betaal het. Al wat nog uitstaande is, is die bedrag wat in dispuut is.

In ’n poging om die watertoevoer te herstel, het die uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, die nasionale minister van waterwese, sanitasie en infrastruktuur, Lindiwe Sisulu, versoek om in te gryp om die voortslepende dispuut op te los. “Dié vergadering sal hopelik die kwessie beëindig.”

* Intussen het Bloemwater ’n aansoek om verlof om te appelleer teen die uitspraak verlede week in die Vrystaatse hooggeregshof ingedien.

In dié uitspraak is ’n bevel bekragtig wat Bloemwater verbied om waterbeperkings in te stel totdat sy dispuut met die metro opgelos is.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Bloemfontein  |  Water Afgesny  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.