Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloemfonteiners keelvol oor rybewyse
Herna Williams en haar kleinseun, Derick Williams, van Bloemfontein. Foto: Marietjie Gericke

Bloemfonteiners is moedeloos oor die chaotiese toestand by die Bloemfonteinse toetssentrum wat daartoe lei dat rybewyse nie uitgereik kan word nie.

Die kennisgewing by die Bloemfonteinse toetssentrum wat mense aanmoedig om na naburige dorpe te gaan as hulle hul rybewyse wil hernu.Foto: Marietjie Gericke

Die oogtoets- en vingerafdruk-eenhede is buite werking en mense word na ander dorpe verwys.

Herna Williams (75) en haar kleinseun Derick Williams is Donderdag onverrigter sake huis toe.

Williams sr. sê sy het 34 jaar lank in George gebly. “Daar was nooit ’n probleem nie. Maar nou bly ek ’n jaar in Bloemfontein en is stokflou gesukkel.”

Sy sê sy moes oogarts toe omdat die oogtoets-eenheid by die sentrum buite werking is. “Nou werk die sentrum se vingerafdruk-eenheid ook nie. Ek is Donderdag onverrigter sake huis toe gestuur. Hulle kan nie vir my sê wanneer die stelsel weer gaan werk nie. Intussen verval my bestuurderslisensie aanstaande maand.”

Williams sê haar tyd word gemors. “My hond huil soos ’n wolfie tuis as ek so lank van die huis weg is. Vir niks.”

Gift Letebele (30) van Bochabela by Bloemfontein sê hy wil aansoek doen vir ’n lisensie om openbare vervoermiddels te mag bestuur. “Ek is na ’n polisiekantoor verwys vir vingerafdrukke en na Botshabelo naby Thaba Nchu vir oogtoetse.”

Hy sê omdat hy nie ’n motor het nie, moes hy bykans R60 bykomend aan openbare vervoer opdok om alternatiewe dienste te kry.

Gift Letebele Foto: Marietjie Gericke

Annelize van der Walt, inwoner van Bloemfontein, sê haar seun, MJ, moes ’n afspraak maak om sy leerlinglisensie te kry.

“Die Bloemfontein-toetssentrum sê hulle oogtoets-eenheid is buite werking. Daar is aan ons gesê ons kan na enige ander sentrum gaan. Ek het Brandfort gebel, wat gesê het ons is welkom om daarheen te ry. Daar aangekom, was hul stelsel af. Van daar af het ek ook Kimberley en Dewetsdorp se sentrums gebel. Albei se stelsels was ook buite werking.”

Van der Walt sê boonop is daar vir haar gesê dat Brandfort net op Maandae en Woensdae oogtoetse doen. Dewetsdorp se personeel het weer gesê hulle toets net op Maandae.

“Hierna het ek Petrusburg gebel, waarna ons daarheen is. “My seun het die oogtoets daar gedoen. Toe ons vra vir die papier dat ons in Bloemfontein ’n afspraak kan maak vir sy leerlinglisensietoets, het hulle gesê hy kan dit net in Petrusburg skryf. Hy kan nou eers op 6 Junie sy toets vir sy leerlinglisensie in Petrusburg gaan skryf.”

Van der Walt sê die onkoste raak enorm.

Sy weet van ’n boer van Bothaville wat 45 km van die dorp af bly en sewe keer heen en weer moes ry om sy rybewys as openbare karweier te kry.

“Ek en my ma het al in Maart aansoek gedoen om ons bestuurderslisensies hernu te kry, maar niks is nog beskikbaar nie.

Die oogtoets-eenheid by die Bloemfonteinse toetssentrum is met rooi band afgesper. Foto: Marietjie Gericke

“Ons het boonop gister in die gange van die toetssentrum gehoor daar is 11 000 bestuurderslisensies weg.”

* Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, sê daar is wel ’n agterstand van 11 000 bestuurderslisensies en dié probleem het aandag gekry.

Die lisensies wat nog nie afgehaal is nie, is dié van eienaars wat nie opgespoor kan word nie. Sodra daardie lisensie-eienaars opdaag, sal hulle gratis gehelp word. Die probleem is ’n nasionale probleem en raak nie net die Vrystaat nie, sê sy.

Sy sê die Lengau- en Thaba Nchu-gebou word tans opgegradeer en die instandhoudingswerk sal Maandag voltooi wees. Die instandhouding word gedoen om die geboue gesonder en veiliger vir werknemers en die publiek te maak.

Die oogtoetsmasjiene kan nie na ’n ander omgewing oorgeskuif word nie omdat die hele netwerk dan oor geïnstalleer moet word. Die oogtoets-afdeling sal weer Dinsdag oopgestel word.

Die reëlings is tydelik totdat die werk voltooi is.

Mophethe sê hulle het 64 toetsstasies in die Vrystaat. Lengau in Bloemfontein hanteer 40% van die werk in die provinsie. “Daar is toetssentrums in nabygeleë dorpe waar niemand eens in ’n ry hoef te wag nie.”

Meer oor:  Rybewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.