Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloemwater-dispuut gaan beslis tot droë krane lei

Dit is nou ’n voldonge feit dat die inwoners van die noorde van Bloemfontein vir ’n onbepaalde tyd sonder water gaan wees.

Bloemwater, die stad se watervoorsiener, het Woensdagmiddag skriftelik bevestig dat hy nie water uit die Rustfonteindam vir die Mockesdam gaan vrylaat sodat die Maselspoort-watersuiweringsaanleg water kan ontvang nie.

Dit beteken dat die inwoners van die noorde hulle moet staal vir ’n waterkrisis met krane wat teen Donderdagaand of Vrydagoggend kan opdroog soos wat die reservoirs leegloop.

Die droë Mockesdam kan nie meer water aan die Maselspoort-watersuiweringsaanleg lewer nie. Dit bring mee dat die noordelike inwoners van Bloemfontein binnekort sonder water gaan wees. Foto: Mlungisi Louw

Kido Thoabala, kommunikasiebestuurder van Bloemwater, sê dit gaan oor wanbetaling van die Mangaung-metro wat die laaste drie maande glad nie sy waterrekening van Bloemwater vereffen het nie.

Sy het in ’n nuusverklaring bevestig dat Bloemwater op 20 November ’n versoek van die metro gekry het vir die vrylating van rouwater uit die Rustfonteindam aan die Mockesdam, wat nou dolleeg is.

Die versoek is geweier omdat die metro nie sy huidige waterrekening betaal het nie. Dié rekening vorm nie deel van die dispuut van die laaste drie maande oor die stad se waterrekenings nie.

“Die rekening vir die rouwater uit die Rustfonteindam wat versoek is, moet aan Bloemwater betaal word, wat weer die departement menslike nedersettings, water en sanitasie daarvoor moet betaal. Maar eers moet die metro sy uitstaande rekening betaal.”

Thoabala sê gevolglik sal geen rouwater vir die Mockesdam beskikbaar gestel kan word nie.

Die Maselspoort-suiweringsaanleg, wat water suiwer vir die inwoners van die noorde van Bloemfontein, is sedert Maandagoggend afgeskakel omdat water nie meer vir suiwering uit die leë Mockesdam onttrek kan word nie.

Rossouw Botes, DA-raadslid van die metro wat met waterkwessies gemoeid is, sê dit is ’n skok om te verneem dat water nie aan die Mockesdam gelewer gaan word nie.

“Die Grondwet is baie duidelik daaroor dat water noodsaaklik vir mense is. Hier gaan dit oor ’n geldtwis, terwyl mense se lewens bedreig gaan word.”

Botes sê die waterkrisis kon voorkom gewees het as Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, en die administrasie van die metro gehoor gegee het aan verskeie versoeke om die huidige waterrekening te betaal.

Die Mockesdam buite Bloemfontein is so te sê horingdroog. Foto: Mlungisi Louw

Botes sê die Arboretum-reservoir het Woensdagoggend op 55% gestaan.

“Met die geweldige hittegolf wat tans heers en die feit dat daar al van Maandag af geen nuwe, gesuiwerde water in die reservoir vloei nie, daal die vlak van die reservoir teen ’n ongekende tempo.”

Hy doen ’n ernstige beroep op inwoners om water uiters spaarsamig te gebruik.

* Dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid, sê dit is ’n magspel tussen die metro en Bloemwater oor water, terwyl ’n speelbal van die inwoners gemaak word. “Dit is onaanvaarbaar.

“Ons betaal ons water, maar Mangaung betaal nie ons geld aan Bloemwater oor nie. Ons sal in die toekoms ’n besluit moet neem om Bloemwater regstreeks te betaal om die waterrekening in orde te kry.”

Sy sê mense het ’n grondwetlike reg op water.

“Die dispute tussen Mangaung en Bloemwater gaan onder meer oor droogtetariewe wat gehef word en oor die laaste rekening wat buite hierdie dispuut val, wat ook nie betaal is nie.”

Snyman-Van Deventer sê die VF Plus sal ’n hofbevel teen Bloemwater oorweeg indien daar geen ander moontlikheid is om water vir die noorde van die stad te kry nie.

* Intussen vergader Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR van die departement van samewerkende regering en tradisionale sake (Cogta), Donderdag met Eskom wat dreig om Mangaung, Mantsopa (Ladybrand en Tweespruit) en Mafube (Frankfort en Villiers) se krag van 3 Desember af van 06:00 tot 20:00 weens wanbetaling af te skakel.

Centlec sê in ’n nuusverklaring dat dit net die huidige rekening is wat agterstallig is en dat dié rekening spoedig betaal gaan word. Centlec belowe om alles in sy vermoë te doen om te keer dat sy kliënte ’n donker Kerstyd tegemoet gaan.

Meer oor:  Bloemwater  |  Bloemfontein  |  Munisipale Skuld  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.