Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloemwater mag steeds nie krane toedraai

Die Vrystaatse hooggeregshof het gelas dat Bloemwater nie volgende maand die waterkrane mag toedraai na die Mangaung-metro weens skuld wat glo nou al sowat R767 miljoen beloop nie.

Die metro en Bloemwater het ’n ooreenkoms aangegaan. Dit behels dat die krane nie toegedraai sal word voordat die dispuut tussen hulle oor hoeveel die skuld is, deur arbitrasie beslis is of ’n aansoek om verlof om na die konstitusionele hof te appelleer, afgehandel is nie.

Tot tyd en wyl dié arbitrasie of die moontlik appèl afgehandel is, geld ’n bevel in September deur die hooggeregshof.

Daarvolgens mag Bloemwater nie die toevoer na die metro verminder voordat die twee hul onderlinge twis oor hoeveel die skuld is, opgelos kry nie.

Die waterraad se poging om hom tot die appèlhof te wend om teen dié bevel te appelleer het intussen misluk. Nou wil hy hom tot die konstitusionele hof wend.

In die uitspraak in September het waarnemende regter Marina Voges gesê deur waterbeperkings toe te pas kan die grondwetlike regte van die mense in die metro se bedieningsgebied aangetas word. Dit mag hulle selfs van hul basiese voorraad water ontneem.

Die nuutste ooreenkoms wat in die hooggeregshof deur regter Martha Mbhele ’n bevel van die hof gemaak is, kom nadat Bloemwater weer gedreig het om weens die reuse-skuld die watervoorraad na die metro van 7 Desember af te verminder.

Advv. Stefan Grobler SC en Tiaan Pienaar het onderskeidelik vir Bloemwater en die metro opgetree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.