Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bloemwater sny lewering van water weens wanbetaling

Waterlewering aan 13 Vrystaatse dorpe, waarby Bloemfontein ingesluit is, word van Dinsdag af verminder weens dié munisipaliteite se wanbetaling aan Bloemwater waar die skuld tussen R1 miljard en R2 miljard beloop.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê Bloemwater, die waterraad van die departement waterwese en sanitasie, het die Mangaung-metro laat weet dat hy weens die wanbetaling of die nienakoming van verpligtinge genoop is om die lewering van water van Dinsdag 1 September af in te kort.

Bernard Phitsane, voorsitter van die Bloemwaterraad.
Rossouw Botes
Skully Nxangisa Foto: Argiewe

“Die waterraad het gesê hy sal die waterlewering so verminder dat die waterinfrastruktuur nie beskadig word nie. Ook is genoem dat skole en hospitale die munisipaliteit se kliënt is en dat die munisipaliteit dus moet toesien dat water by die skole en hospitale gelewer word.”

Botes sê dit is nog nie seker tot watter mate die waterlewering verminder gaan word nie.

Botes sê volgens die DA se inligting was die metro se laaste betaling aan Bloemwater op 28 Julie toe R60 miljoen betaal is.

Bernard Phitsane, die voorsitter van Bloemwater, het onlangs aan Netwerk24 gesê die metro skuld Bloemwater tussen R1,2 miljard en R1,3 miljard, waarby die dispuutbedrag ingesluit is.

Die Kopanong-munisipaliteit (Suid-Vrystaatse dorpe) skuld verder sowat R450 miljoen en die Mantsopa-munisipaliteit, (Excelsior, Ladybrand en Tweespruit) tussen R2 miljoen en R3 miljoen.

Phitsane het ook gesê Bloemwater is op sy knieë en kan enige dag sy deure weens Vrystaatse munisipaliteite se wanbetaling sluit.

Die metro sluit dorpe soos Bloemfontein, Wepener en Dewetsdorp in. Van Stadensrus kry water van boorgate af en Soutpan vanuit die Krugersdriftdam. Thaba Nchu en Botshabelo kry ook nie sy water van die Welbedacht-lyn wat deur Bloemwater bedien word, nie.

Nege Suid-Vrystaatse dorpe (Trompsburg, Bethulie, Fauresmith, Jagersfontein, Gariepdamdorp, Reddersburg, Edenburg, Springfontein en Philippolis) sal ook geraak word.

In die Mantsopa- munisipale gebied word Ladybrand, Excelsior en Tweespruit geraak.

Phitsane het gesê Bloemwater het nie meer ’n ander keuse nie as om die water te verminder.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van waterwese en sanitasie, het gesê hy kan nie praat nie omdat hy in ’n vergadering is.

Hy het die afgelope week gesê hy is baie bekommerd oor die wateromstandighede van die Fiko Patso-dam in Qwaqwa én oor die Vaaldam wat nou onder 50% vol is.

Hy het gesê damme in die Mangaung-omgewing het vir eers nog genoeg water, maar wou hom nie uitlaat oor die Vrystaatse munisipaliteite wat nie bereid is om vir water te betaal nie.

Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, het gesê Bloemwater het hom nog nie hieroor ingelig toe hy oor die omstandighede gebel is nie.

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, het gesê sy is weens ’n oogoperasie met siekteverlof en dat Mamiki Qabathe in haar plek as premier waarneem.

Skully Nxangisa, die Vrystaatse LUR vir die departement waterwese en sanitasie (Cogta), het gesê die departement probeer geld in die hande kry om betalings te doen.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Bloemwater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.