Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bom bars in Mangaung oor R17 m. se verkeersboetes
Die Mangaung-metro het glo R17 miljoen se verkeersboetes net afgeskryf. Foto: Unsplash

’n Storm het losgebars in die Mangaung-metro nadat dit bekend geword het dat sowat R17 miljoen se verkeersboetes afgeskryf word.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, en adv. Thankiso Mea, stadsbestuurder, het glo in Desember ’n dokument onderteken dat die geld afgeskryf kan word.

Nou dring die DA daarop aan dat Mea en Mzingisi Nkungwana, hoof van die departement maatskaplike dienste, dissiplinêr vervolg word daaroor. Altesame 72 verkeersboekies, waarin boetes tussen 2016 en 2019 uitgeskryf is, het glo ook spoorloos verdwyn.

Die DA sê Mea en Nkungwana, wat in beheer is van die verkeersafdeling, is verantwoordelik vir die bestuur daarvan. Hulle moes toesig gehou het en kan nie nou hul hande in onskuld was – terwyl hulle beplan om 32 verkeersbeamptes dissiplinêr oor dié kwessie te verhoor – nie.

Dié twee moes toesig hou en gesorg het dat die boeteboekies nie “gerieflikheidshalwe” wegraak nie.

Die DA-raadslid Dirk Kotzé het Donderdag op die jongste raadsvergadering gepraat oor wanbestuur en moontlike korrupsie by die metro.

Hy sê enigiemand in die verkeersafdeling kon doen wat hulle wou met die boetes omdat dit op ’n gewone Microsoft Excel-sigblad hanteer word. Almal in die departement het toegang daartoe en kan boetes verander of selfs afskryf.

Kotzé het ook daarop gewys dat die ouditeur-generaal in sy 2019-verslag oor die boekjaar van 2017/18 reeds sy kommer uitgespreek omdat die metro géén inkomste uit verkeersboetes kry nie.

Ook het Hardie Viviers, DA-koukusleier, in 2018 en 2019 al vrae gevra oor of die kontrak hernu is met die maatskappy wat destyds verkeersboetes vir die metro reguleer het. Mea het hom egter nie geantwoord nie.

Daardie maatskappy het destyds binne drie maande die stelsel waarmee hy vir die metro boetes gereguleer het, gevat en geloop omdat hy nie betaal is nie.

Net in die 2016/17-boekjaar het die metro sowat R800 000 verloor weens verkeersboetes wat nie ingevorder kon word nie.

Daar was geen beleid vir verkeersbeamptes oor hoe hulle hul werk moet doen nie. Kotzé sê toe hulle in Desember so ’n beleid wou laat goedkeur, het die burgemeester die punt van die agenda verwyder.

Hoewel daar ’n nasionale register is waarop verkeersboetes aangeteken en opgeskryf kon word as daar nie ’n ander stelsel in plek was nie, is dit volgens Kotzé nooit gebruik nie.

Kotzé sê die kwessie moet deur ’n onafhanklike ondersoeker ondersoek word.

“Verkeersboetes kan by banke en die polisiekantoor betaal word. Iemand moes die geld ontvang het. Daar is nasionale wetgewing wat bepaal hoe lank sulke boeke bewaar moet word – in sekere gevalle tot 15 jaar.”

Mlamleli moet binne sewe dae sê watter onafhanklike ondersoeker sy aangestel het en sal binne 30 dae aan die raad verslag hieroor moet doen, sê Kotzé.

Mea is op sy twee selfone gebel, maar het nie sy telefone beantwoord nie.

Meer oor:  Mangaung  |  Munisipaliteit  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.