Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Boshoffers betoog teen vrot munisipaliteit

Die inwoners van die Tokologo-munisipaliteit op Boshof in die Vrystaat het Maandag vir ure in snerpende koue en gietende reën voor die munisipale kantoor gewag vir iemand om hul versoekskrif in ontvangs te neem en te onderteken.

Méér gat as pad op Boshof. Van Wyk en Hettie Rossouw, inwoners van Boshof, wys hier hoe lyk die strate op die dorp. Die straat wat hier so vervalle is, is Markstraat. Foto: Marietjie Gericke

In die versoekskrif eis Moniwiwa Thotelo, voorsitter, en Christopher Jordaan, mede-koördineerder van die Concerned Community Committee, onder meer dat dié munisipaliteit onmiddellik onder administrasie geplaas word en dat die enigste raadslid wat op die dorp oor is, raadslid B.C. Groep van die ANC, asook Kenilwe Motlhale, die munisipale bestuurder, Thabo Matiele, finanshoof, Caswell Thlokwe, bedryfshoof, en Mpho Setlhoho, tegniese direkteur, onmiddellik vervang moet word.

In die versoekskrif eis die inwoners ook dat:

* die vuil drinkwater volgens die standaarde van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) gesuiwer word;

* nuwe erwe uitgesit, nuwe huise gebou en onvoltooide projekte voltooi word;

* strate, waar daar nou meer gat as pad is, reggemaak en verdwene straatnaamborde vervang word;

* die emmerstelsel met spoeltoilette vervang word;

* bekwame personeel aangestel word;

* die stortingsterrein omhein, skoongemaak en in stand gehou word;

* plaaslike mense in die munisipaliteit aangestel word, omdat 90% van die munisipale werkers van plekke soos Welkom, Bloemfontein en Kimberley kom;

* straatligte en plaveisel in die nuwe gebied aangebring en stukkende straatligte in die dorpsgebied, Seretse-township en Kareehof vervang word;

* verantwoordelikheid aanvaar word vir die voertuie, eiendom en wild, aangesien bykans al die voertuie vir skuld opgeveil en die wild weg is;

* geïntegreerde ontwikkelingsplanne hersien en ’n forensiese oudit gedoen word;

* die sewe huise wat die Vrystaatse premier beloof het, gebou word;

* die beloofde burgemeestersprojek in werking gestel word, soos die identifisering van rommelaflaaiplekke;

* die databasis vir leerlinge reggestel word;

* maatskaplike verantwoordelikheid aanvaar word vir die myne rondom Boshof;

* munisipale regulasies hersien word en straatname en -borde geïnstalleer word;

* titelaktes aan die eienaars gegee word en elektrisiteit regstreeks van Eskom gekoop kan word.

Inwoners het Maandag snerpende koue en gietende reën getrotseer om voor die Tokologo- munisipale kantore op Boshof te betoog. Foto: Marietjie Gericke
Snerpende koue en gietende reënweer kon nie woedende inwoners van die Vrystaatse Tokologo-munisipaliteit Maandag keer om hul sê by die munisipale kantore in Boshof te gaan sê nie. Foto: Marietjie Gericke
Daar is gesing, gedans en geskree voor die munisipale kantore van die Tokologo-munisipaliteit waar die inwoners in opstand gekom het teen die swak dienslewering. Foto: Marietjie Gericke

Aangesien die bestuurshoofde van die munisipaliteit nie vir die versoekskrif wou teken nie, moes Cogta (die departement vir samewerkende regering en tradisionele sake) ’n afvaardiging stuur om die versoekskrif in ontvangs neem.

Mokete Duma, hoof van Cogta, sê hulle sal na die klagte kyk en die munisipaliteit oor die beste oplossing vir elkeen adviseer. Die bou van huise is die verantwoordelikheid van die departement van menslike nedersettings.

Moniwiwa Thotelo, voorsitter, en Christopher Jordaan, koördineerder van die Corncerned Community Committee, onder wie se leiding ’n betoging Maandag oor swak dienslewering by die munisipale kantoor op Boshof gehou is. Foto: Marietjie Gericke

Duma sê ’n mens kan nie sommer net ’n munisipaliteit onder administrasie plaas nie. Die munisipaliteit voldoen nie aan die kriteria hiervoor nie.

“Dit is nie ek wat kan besluit of die munisipaliteit regstreeks vir Eskom kan betaal nie. Dit sal afhang of Eskom die infrastruktuur en mannekrag hiervoor het en of die raad so ’n besluit geneem het.”

Van Wyk en Hettie Rossouw, ’n egpaar van Boshof, sê strate is vol slaggate en die stadsaal verval. Alles verval. Al die wild is weg uit die wildkamp. Krag en water van die townships word kort-kort eenvoudig afgesit.

Estelle Potgieter-Pretorius, nog ’n inwoner, sê Tennis Suid-Afrika het R500 000 geskenk vir die regmaak van die tennisbane. Dit het nooit gebeur nie. “Ek is lid van Afri-Forum en moes onlangs met twee van hul bakkies vyf weke se vullis van die dorp af wegry. In die townships word vullis maande lank nie opgelaai nie.”

Meer oor:  Tokologo-Munisipaliteit  |  Boshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.