Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bouwerk aan ‘armlastiges’ se huise in Kby eers gestop

Bouwerk aan ses nuwe huise in Kimberley ter wille van ’n “armlastige gesin van 47 lede wat in een huis woon” – glo ’n gevolg van pres. Cyril Ramaphosa se besoek in Januarie vanjaar – is vandeesweek by ooreenkoms gestaak.

Pres. Cyril Ramaphosa luister met sy besoek aan Kimberley na die inwoners van die huis in Colville, Kimberley, waar 47 mense gebly het. Foto: Charné Kemp

Die ooreenkoms is deel van die DA se hersieningsaansoek teen die Sol Plaatje-munisipaliteit, sy munisipale bestuurder en Afribiz Construction.

Die herrie volg op Ramaphosa se besoek aan Colville op die vooraand van die ANC se 108ste verjaardagvieringe toe hy huise in Colville besoek het.

Op die besoek het dit geblyk dat 42 mense in een huis en sinkhuise in die agterplaas woon.

Hoewel die gesin in die huis drankgebruik ontken het, het Ramaphosa drankbottels in asblikke op die erf gevind.

Op 25 Januarie het Shaine Griqua, proporsionele ANC-raadslid in dié DA-wyk, aangekondig dat die munisipaliteit erwe beskikbaar gaan stel waarop Afribiz ses nuwe huise gratis sou bou. Die bestaande huis sou opgeknap word.

Die DA voer in sy hofgeding aan die erwe in Herlear is onwettig aan die konstruksiemaatskappy toegeken sonder dat enige raadsbesluite daaroor geneem is, of dat verpligte wetlike voorskrifte en regulasies gevolg is.

Die breër gemeenskap se reg op deursigtige, regverdige, wettige en oop prosesse is benadeel.

Die toekenning aan die betrokke gesin, wat nie vooraf as armlastiges by die munisipaliteit geregistreer is nie, is arbitrêr en onregverdig omdat talle ander inwoners in soortgelyke omstandighede in die stad woon.

Volgens die DA stel die munisipaliteit homself bloot aan moontlike eise weens die gebrek aan ’n kontrak tussen die munisipaliteit en die kontrakteur.

Die bouterrein op munisipale erwe in Herlear langs die polisiewoonstelle wat glo bestem is vir armlastige gesinne van Colville. Foto: Charné Kemp

’n DA-raadslid wat klagtes ondersoek het, het op 5 Maart ’n brief van die burgemeester se kantoor aan Karabo Phihlela van Afribiz bekom waarin die munisipaliteit skynbaar die gedienste erwe “verskaf”.

Die DA het onsuksesvol probeer om meer inligting van die munisipale bestuurder te verkry, wat die hofgeding genoodsaak het.

Boy Dhluwayo, stadsbestuurder, voer aan dat die erwe nie verkoop of oorgedra is nie en steeds aan die munisipaliteit behoort. Die munisipaliteit het bloot die erwe “beskikbaar gestel” en dat wetlike voorskrifte, openbare deelname of raadsbesluite daarom nie van toepassing is nie.

Hy beskuldig die DA daarvan dat hy inwoners wil beskerm wat bekommerd is dat hul huise se waarde weens die nuwe huise sal daal.

Dhluwayo ontken dat die munisipaliteit geldelik blootgestel kan word, en betreur die geld wat die betrokke regsgeding die sukkelende munisipaliteit kos.

Die munisipaliteit het vanweë Ramaphosa se besoek en berigte daaroor “opdrag gekry” om geskikte erwe te vind nadat die konstruksiemaatskappy na vore gekom het.

Die erwe is in Herlear toegeken omdat Greenpoint-inwoners, wat ook op ’n waglys vir huise is, gedreig het om die ses huise af te breek indien dit daar gebou word.

Die hersieningsaansoek word in Augustus aangehoor.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Kimberley  |  Behuising  |  Huise  |  Bouwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.