Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Busdiens haal nie premier se spertyd

Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier, het Vrydag in sy provinsiale rede gesê die Nelson Mandelabaai-metro se geïntegreerde padvervoerdiens (IPTS) se eerste fase sal Februarie in werking wees  maar op 1 Maart was daar nog geen bus te sien.

Kontrakte word Maandag aan die opgeleide bestuurders uitgedeel wat deel is van die Nelson Mandelabaai-metro se geïntegreerde padvervoerdiens (IPTS) se eerste fase. Foto: Verskaf

Rano Kayser, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, het in reaksie gesê hy weet nie hoe Masualle tot die slotsom gekom het nie, maar meen dié stelling is ’n bewys van die premier se vertroue in die metro om die stelsel op die been te bring.

“Daar word verskeie vergaderings tussen ons en die departement van vervoer gehou, wat weer op sy beurt aan die premier terugrapporteer. Die inligting is dalk verkeerdelik oorgedra.”

Die snelbusdiens sloer reeds sedert 2014 om in werking te tree en talle sperdatums is reeds misgeloop om die busse op die pad te kry.

Hoewel die busse se wiele nie in Februarie begin rol het nie, meen Kayser dit is net ’n kwessie van tyd voordat die snelbusdiens in bedryf is.

“Daar is nog net ’n laaste hindernis voordat ons fase 1 in werking kan stel. En ons is nou baie naby daaraan om die hindernis te oorkom.”

Hy sê kontrakte is reeds Maandag aan opgeleide en gekwalifiseerde bus- en taxibestuurders vir die eerste fase, wat ’n roete uit Cleary Park en die sentrale sakegebied behels, oorhandig.

Die busse van die Nelson Mandelabaai-metro se geïntegreerde padvervoerdiens (IPTS) staan gereed om te ry. Foto: Argief

Volgens Chris King, uitvoerende hoof van Spectrum Alert – ’n voormalige taxivereniging wat nou ’n vervoermaatskappy is – en die bestuurders van die snelbusdiens, is die sogenaamde struikelblok om die busse aan hulle oor te teken.

Sodra die oordrag van die busse afgehandel is, sal hulle ’n bedryfslisensie vir die busse van die departement van vervoer kan bekom om die busse op die pad te kry.

Altesaam 25 busse moet oorgedra word, sê King.

’n Vergadering vir die finalisering van die bates se oordrag is glo vir Maandag belê. “Ek glo ons sal binnekort die finale klaring kry en so gou moontlik daarna die stelsel in werking stel.

“Op die oomblik vorder ek nog ondertekende kontrakte in, maar tot dusver het ons sowat 50 bestuurders wat dit onderteken het. Ek glo ons sal die mas opkom, dit sal net goeie samewerking uit alle oorde verg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.