Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Busdienste in Pta Woensdag steeds opgeskort

Die staking deur munisipale busbestuurders in Pretoria het Dinsdag vir die tweede opeenvolgende dag die verkeer en sakebedrywighede in Pretoria ontwrig.

Dit het die Tshwane-metroraad genoop om sy metrobusdienste en sy Tshwane Rapid Transit (TRT) tot verdere kennisgewing op te skort.

Metrobusdienste is sedert Maandag opgeskort en TRT se dienste laat Dinsdagmiddag.

Busse is Dinsdag weer gebruik om strate in Pretoria se middestad te versper. Foto: Isabel Venter

Munisipale werkers het Dinsdag glo in hul private voertuie asook met metrobusse die ingang na die Waltloo-treinstasie naby Eersterust versper.

“Dit was nie ’n maklike besluit om die busdienste op te skort nie, juis omdat dit soveel ongerief vir pendelaars veroorsaak, maar vir die veiligheid van ons passasiers en eiendom was dit nodig,” sê Sheila-Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in Tshwane.

Dit is skokkend hoe min respek (die vakbond) Samwu vir hul medemens het, sê Senkubuge.

“Hulle het geen ontsag vir die res van die stad wat hulle ontwrig net omdat daar nie gehoor gegee word aan hul onredelike eise nie.”

Die verkeer het Dinsdag weer op verskeie plekke in Pretoria se middestad opgehoop. Foto: Isabel Venter

Ná Maandag se fiasko het die Tshwane-metro ’n dringende interdik bekom om betogers te verbied om metrobusse verder onwettig te gebruik om paaie in die stad te blokkeer. Ten spyte daarvan is busse weer Dinsdag gebruik om roetes na en van die middestad te blokkeer.

Blokke beton en gemors is ook gebruik om ander strate te versper.

Ten spyte hiervan sê die munisipale werkersvakbond Samwu hul lede is nié besig met ’n staking nie.

“Ons lede is vandag hier byeen om te hoor wat die uitkoms was van die onderhandelings met die munisipaliteit,” het Mpho Tladinyane, Samwu se streeksekretaris, Dinsdag gesê.

Betonblokke is ook plek-plek gebruik om strate in die middestad te versper. Foto: Isabel Venter

Tladinyane het gewag om met die burgemeester en uitvoerende raadslede te vergader nadat ’n vergadering wat Maandagaand sou plaasvind, nie gerealiseer het nie.

Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en Tshwane se waarnemende burgemeester, sê vroeëre onderhandelings oor lone tussen die metroraad en Samwu het Vrydag ’n dooiepunt bereik.

Die aangeleentheid is toe na ’n bedingingsraad verwys, wat nog tot ’n beslissing moet kom.

Senkubuge meen die busbestuurders se eis vir ’n 18%-verhoging is verregaande.

Tladinyane het vroeër gesê werknemers op laer vlakke se salaris is nie verhoog soos dié op hoër vlakke nie.

Volgens hom sal Samwu Woensdag om 10:00 terugvoering van die bedingingsraad kry oor of die metroraad gaan betaal of nie. Hy kon nie met sekerheid sê of dit dan die einde van die staking sou beteken nie.

Tladinyane het weer eens bevestig dat hy nie kon vasstel hoekom busse in die eerste plek gebruik is om die paaie te versper nie.

“Toe ek om 16:00 die stad verlaat het die verkeer weer soos normaal gevloei,” sê hy.

Senkubuge sê dit is omdat die busse toe reeds weggesleep is.

Honderde betogers het Dinsdag opgeruk om hul ontevredenheid te kenne te gee oor ’n loongeskil tussen die Tshwane-metroraad en sy busbestuurders. Foto: Felix Dlangamandla
Die betogers het die strate in die middestad met rommel bestrooi. Foto: Felix Dlangamandla
Rommel lê in ’n straat in die middestad nadat betogers vullishouers omgekeer het. Foto: Felix Dlangamandla
Meer oor:  Tshwane-Metroraad  |  Tshwane-Staking  |  Busstaking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.