Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bykans g’n dorp in VS sonder groot waterprobleme

Daar is tans feitlik nie ’n dorp in die Vrystaat wat nie onder ernstige waterprobleme gebuk gaan nie.

Selfs dele van die munisipaliteite van Matjhabeng en Nala, wat deur Sedibeng Water voorsien word, het verlede week sonder water gesit.

Sedibeng Water is waarskynlik een van die betroubaarste grootmaatwaterverskaffers in die provinsie, maar ’n pomp wat uitgebrand het, het daartoe gelei dat bykans 500 000 mense vir vyf tot ses dae lank sonder water was.

In Parys en Vredefort is waterprobleme lankal nie meer nuus nie en gebarste pype, vuil water en droë krane is aan die orde van die dag.

Vroue wag in die Mamafubedu-township in Petrus Steyn vir ’n watertenker. Die burgemeester van die Nketoana-munisipaliteit, Mamiki Mokoena, se afgebrande huis is in die agtergrond. Inwoners het in Julie verlede jaar haar huis afgebrand uit woede oor die waterprobleme hier. Foto: Alet van der Walt

Saal de Jager, ’n inwoner van Parys en oudraadslid, sê ’n watersuiweringsaanleg wat in 2015 gebou is, is vir drie jaar deur die kontrakteur instand gehou.

“Toe die waarborgtyd verby is en die munisipaliteit moet dit self instand hou, toe val alles uitmekaar.”

De Jager sê net die ou aanleg werk tans en kan 13 megaliter water suiwer, terwyl die dorp daagliks 25 megaliter nodig het.

Die departement van water en sanitasie het nou ingegryp en De Jager sê hy hoop daar is lig in die tonnel.

Steve Naale, woordvoerder van die Ngwathe-munisipaliteit wat Parys, Vredefort, Koppies en Edenville bedien, het bevestig dat die departement ingegryp het en die aanleg nou herstel word.

Carina Serfontein, ’n DA-raadslid van Koppies, sê dié dorp se watersuiweringsaanleg is te klein vir die groeiende bevolking. As dit warm is of tydens beurtkrag is daar nie genoeg water vir almal nie.

Edenville ondervind ook van tyd tot tyd waterprobleme, sê sy.

In Qwaqwa, Kestell en Harrismith het jarelange watertekorte verlede maand tot onluste gelei nadat ’n kind verdrink het toe sy en haar broer noodgedwonge water uit ’n rivier moes gaan skep.

Verlede jaar in Julie het woedende inwoners van Petrus Steyn die burgemeester, Mamiki Mokoena, se huis afgebrand omdat hulle keelvol was vir die voortslepende watertekorte in die Mamafubedu-township.

’n Boer, Johan Claassen, het op eie koste ingegryp en sowat R300 000 bestee om inwoners te help sodat hulle lopende water het.

Flip Strydom, DA-raadslid in die Setsoto-munisipaliteit, sê al die dorpe wat onder dié munisipaliteit val, ervaar ’n waterkrisis.

“By Marquard het die damwal in die Laaispruit gebreek, en die pompe en kabels na ’n nuwe buitestroomdam is gesteel, so ons kan ook nie dié dam vol pomp nie.”

Ook by Ficksburg, Clocolan en Senekal is daar nie water nie weens vandalisme, diefstal en swak instandhouding van die waterinfrastruktuur.

Ons sukkel al sedert 2010 met water, gelukkig help die boere ons.

Corné van Zyl, ’n inwoner van Winburg, sê dié dorp se watergehalte is so swak dat jy nie eens wasgoed daarin kan was nie.

“Die munisipaliteit stuur selfs boodskappe om te sê ons moenie die water drink nie,” sê sy.

“Ons sukkel al sedert 2010 met water, gelukkig help die boere ons.”

Danie Knoetze van AfriForum op Heilbron sê daar is dele van die Phiritona-woonbuurt wat al langer as twee jaar geen lopende water het nie.

Selfs Hoopstad, wat teen die Vetrivier lê, sukkel met waterprobleme omdat pompe uitbrand of die waterwerke nie genoeg water aan die dorp kan voorsien nie. Reinette Rautenbach, ’n inwoner, sê beurtkrag vererger net dié probleme.

Meer oor:  Instandhouding  |  Water  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.