Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
ANC se mosie teen DA-burgemeester in Tshwane slaag ook
tshwane
Raadslede van die Tshwane-metroraad raak hardhandig met mekaar op die spesiale raadsvergdering. Die gestamp het uitgebreek toe DA-raadslede wou hê dat 'n Cogta-amptenaar oorneem as tydelike speaker. Foto: Sarel van der Walt

20:06

Die ANC se mosie van wantroue teen Stevens Makgalapa, Tshwane se DA-burgemeester, was ook suksesvol en hy is dus uit die kussings gelig.

Die DA het volgehou dat die proses onwettig is.

Lees later meer.

18:23

EFF se mosie om van Rachel Mathebe, die DA-speaker van die Tshwane-metroraad, ontslae te raak, is suksesvol deurgevoer. Die ANC het die EFF gesteun.

Lees later meer.


Chaotiese tonele het hulle Donderdagmiddag op ’n spesiale raadsvergadering van die Tshwane-metroraad in Pretoria afgespeel.

Kgosi Maepa, die ANC-leier in die raad, het selfs beweer die waarnemende speaker is onder die invloed van en ruik na drank.

John Moodey, die DA-leier in Gauteng, het dit later ten sterkste ontken en die ANC daarvan beskuldig dat hy ’n bespotting maak van die demokrasie.

Koukusleiers van die onderskeie partye in die Tshwane-metroraad vergader om die dooiepunt te probeer oplos oor wie as speaker moet optree. Foto: Sarel van der Walt

Moodey het gesê hy het kort voor die vergadering met die waarnemende speaker gepraat en dié was beslis nie onder die invloed nie.

Die drama het begin toe die EFF en die ANC nie wou hê Rachel Mathebe, die speaker, moes haar kort nadat sy die vergadering geopen het, verskoon nie.

Mathebe wou onttrek omdat sy meen dit is ’n botsing van belange as sy aanbly terwyl ’n mosie van waTntroue in haar aangehoor word.

Die ANC wil ook ’n mosie van wantroue instel teen Stevens Mokgalapa, die DA-burgemeester.

Dit is die enigste twee besprekingspunte op die sakelys.

John Moodey, Gautengse leier van die DA, praat op die Tshwane-raadsvergadering met joernaliste. Foto: Sarel van der Walt

Mathebe het voorgestel Zweli Khumalo, ’n ander DA-raadslid, neem by haar oor. Moodey sê die raad het al voorheen besluit Khumalo sal as speaker oorneem indien Mathebe nie as speaker kan optree nie.

Mathebe het hierop die raad verlaat.

Moodey sê sy het reg opgetree.

Lede van die EFF het probeer keer dat Khumalo sy plek in die speakerstoel inneem.

Lede van die EFF en die ANC het later om die speaker se stoel saamgedrom. Daar was ook lede van die DA.

Christo van den Heever, hoofsweep van die DA-beheerde metro, het in ’n stadium op en af gestap en op sy selfoon gepraat.

Dit was vermoedelik met John Steenhuisen, die waarnemende DA-leier, wat iewers in die gebou was.

Later het die koukusse van die DA en koalisievennote, die ANC en die EFF, afsonderlik vergader voordat die koukusse se leiers byeengekom het.

Kgosi Maepa (middel) ANC-leier in die Tshwane-metroraad, praat met joernaliste. Foto: Sarel van der Walt

Maepa het aan joernaliste gesê hulle wil hê Mathebe moet teruggeroep word “omdat daar ’n paar vrae is wat ons haar wil vra”.

Daarna wil hulle hê ’n amptenaar van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) moet as speaker waarneem.

Maepa sê die wet maak voorsiening daarvoor.

Moodey wou weet hoekom die Cogta-amptenare reeds by die vergadering was toe dit begin het.

“Hierdie is net nog ’n poging van die ANC om die metro van ons weg te steel. Dis soos hulle ook verlede jaar in Nelson Mandelabaai in Port Elizabeth gemaak het.”

Die ANC en die EFF het intussen saamgewerk om Obakeng Ramabodie as waarnemende speaker aangewys te kry. Die DA hou vol dit is onwettig. ‘n Cogta-amptenaar het voor dit in opdrag van die Gautengse regering tydelik as speaker waargeneem. Daar word intussen tussen al die rolspelers gekoukus.

Die DA sê as die adjunk-speaker en die stadsbestuurder teenwoordig is, kan ‘n nuwe speaker nie verkies word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.