Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Chaos, skade by vergadering in Nelson Mandelabaai
Een van die 15 motors wat tydens ’n openbare vergadering in Colchester beskadig is. Foto: Facebook

Altesame 15 voertuie is tydens ’n openbare munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergadering in Colchester beskadig.

Die vergadering wat deur raadslede van die Nelson Mandelabaai-metro gelei is, is Donderdagaand in chaos gedompel toe raadslede in die gemeenskapsaal vasgekeer en hul voertuie met klippe, asook brandende voorwerpe, bestook is.

Spesifieke kwessies rondom grond en behuisingsprojekte is deur inwoners op die vergadering uitgelig, waartydens ’n man oproerig geraak het.

Dié man is gevra om die vergadering te verlaat, waarna nog ’n man by die saal ingestorm en op raadslede begin skree het.

Kort hierna het ’n groep van sowat 200 mense buite die gemeenskapsaal se heining saamgedrom en al die ingange van die gemeenskapsaal se grensheining met brandende voorwerpe versper.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die polisie se openbareorde-eenheid (Pops) is ingeroep en hulle het die hekke oopgedwing en die mense binne die gemeenskapsaal uitgelaat.

Intussen het gemeenskapslede motors by die gemeenskapsaal met klippe en ander brandende voorwerpe bestook.

Nog vyf voertuie en vier vragmotors is hierna op die N2, wat net langs die gemeenskapsaal geleë is, met klippe bestook.

Die gemeenskapsaal in Colchester waar raadslede en inwoners van die Nelson Mandelabaai-metro Donderdagaand deur ontstoke inwoners vasgekeer is. Foto: SAPD

Beetge sê verskeie sake van saakbeskadiging is by die polisie ingedien. Een man (40) is ook op die toneel vir openbare geweld in hegtenis geneem, toe hy met ’n buiteband in sy hande betrap is wat hy vermoedelik wou gebruik om die N2 mee te versper.

Beetge het Vrydag gesê die N2 is weer oopgestel, maar die polisie handhaaf ’n hoë sigbaarheid in die gebied.

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier, het Vrydagoggend namens Athol Trollip, burgemeester, op die voorval gereageer en sê alle openbare geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergaderings sal voortaan met ’n nuwe struktuur gehou word.

Die bestaande vergaderingskedule sal gewysig word, sodat ’n groter aantal personeellede en politici elke vergadering kan bywoon

“Die bestaande vergaderingskedule sal gewysig word, sodat ’n groter aantal personeellede en politici elke vergadering kan bywoon,” sê Bhanga.

Die direktoraat vir veiligheid en sekuriteit is ook besig om ’n ingrypingstrategie saam te stel om die veiligheid van die inwoners en metro-amptenare te verseker.

Volgens Bhanga is meer as die helfte van hul vorige vergaderings ook deur enkele inwoners ontwrig en meen hy dié optrede is polities gemotiveerd om die DA-koalisieregering se vergadering te laat misluk.

Dié wat die chaos veroorsaak, word gewoonlik met ANC-kleredrag gesien. Dit is duidelik dat hierdie beplande en polities gemotiveerde ontwrigtings is – ons sal dit nie langer verdra nie

“Dié wat die chaos veroorsaak, word gewoonlik met ANC-kleredrag gesien. Dit is duidelik dat hierdie beplande en polities gemotiveerde ontwrigtings is – ons sal dit nie langer verdra nie.”

Hy het bygevoeg dat alles moontlik gedoen sal word om te verseker dat inwoners die geleentheid het om samesprekings met die regering te hou.

’n Nuwe skedule vir die volgende openbare vergaderings sal binnekort beskikbaar gestel word.

Meer oor:  Onluste  |  Nelson Mandelabaai-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.