Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA dien klag by OB in oor WiFi-kontrak van Mangaung-metro

Die DA het Dinsdag ’n klag by die openbare beskermer se kantoor in Bloemfontein ingedien oor ’n verdagte internet-kontrak van die Mangaung-metro.

Twee DA-raadslede van die metro, Dirk Kotzé en Johan Pretorius, die hoofsweep, het Dinsdag ’n klag by die OB in Bloemfontein ingedien oor ’n beweerde korrupte WiFi-kontrak van die Mangaung-metro.Foto: Marietjie Gericke

Heelwat vrae omhul dié kontrak met die diensverskaffer E.O.H. Mthombo.

Die klag is ingedien deur Johan Pretorius, die DA se hoofsweep in Mangaung, en Dirk Kotzé, DA-raadslid wat die kontrak ondersoek het. Adv. Erika Cilliers van die OB se kantoor het bevestig dat so ’n klag ingedien is.

Volgens die DA is ’n dienskontrak reeds in 2015 deur Sibongile Mazibuko, die vorige munisipale bestuurder, en E.O.H. Mthombo onderteken. Dit was vir die verskaffing van hardeware en gratis internettoegang vir minder bevoorregte inwoners van die metro.

Die departement van telekommunikasie het in 2013 ’n beleid vir breëband-WiFi in die Staatskoerant aangekondig, ingevolge waarvan gratis internetgebruik teen 2020 vir alle minder bevoorregte groepe beskikbaar moet wees. Die metro-bestuur het die projek in 2016 van stapel laat loop.

Kotzé en Pretorius sê die eerste fase van die kontrak het ingesluit die installering van ses WiFi-punte, die verskaffing van gratis internet teen ’n gemiddelde spoed van een megagreep per sekonde, en 50 megagrepe gratis internettoegang per dag per gebruiker.

Volgens rekords moes ses toegangspunte by Hoffmanplein in die stad aangebring word.

Die koste verbonde hieraan was R750 000 vir die installering en R308 568 vir die lisensie en onderhoud vir 12 maande.

Die departement van korporatiewe dienste van die metro het in 2016 versoek dat die kontrak met E.O.H. Mthombo verleng word en gevra dat ’n bykomende 24 internetpunte geïnstalleer word.

Dit sou by onder meer Botshabelo, Wepener, Vanstadensrus, Thaba Nçhu en Soutpan aangebring word.

Die DA sê die metro het ’n toelaag van R5,3 miljoen van die nasionale departement van telekommunikasie ontvang.

Die DA het dié verskillende punte besoek en vasgestel dat geen WiFi-geriewe daar beskikbaar is nie.

Verskeie betalings is aan E.O.H. Mthombo gemaak. Die maatskappy het die jongste tyd die nuus gehaal weens bewerings van wanbestuur en bedrog.

Kotzé en Pretorius sê die DA is ook bekommerd dat die projek nie onder die aandag van die raad gebring is vir goedkeuring in die 2016-’17-boekjaar nie.

Die DA het dié verskillende punte besoek en vasgestel dat geen WiFi-geriewe daar beskikbaar is nie.

Die vermoede bestaan dat die regte aankope-proses ook nie gevolg is nie.

Hulle sê in Maart 2019 is ’n nuwe versoek in die Mangaung-raad voorgelê vir die verskaffing van gratis internettoegang vir die metro.

Die DA wou tydens die bespreking van dié punt verskeie kwellinge opper, maar die punt is deur die uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, onttrek.

“Die metrobestuur was van mening dat daar geen geldelike impak op die metro sou wees nie. Die kontrakteur wat in die kontrak genoem is, se bestaan is ook bevraagteken.”

Pretorius en Kotzé sê die DA ondersteun gratis internettoegang vir minderbevoorregtes in die metro, maar dit moet reg bestuur en geïmplementeer word.

“Tot op hede is koste aangegaan vir ’n gratis diens, maar dit kan nie gebruik word deur inwoners wat dit die nodigste het nie.”

* Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, het nie sy telefone beantwoord toe hy vir kommentaar gebel is nie.

Mea was in 2017 een van die ondertekenaars van die kontrak.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Da  |  Ob  |  E.O.H. Mthombo  |  Bloemfontein  |  Wifi-Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.