Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA hoop op hoë stemtalle

Die DA sal Woensdag in veral drie wyke in een Wes-Kaapse munisipaliteit verbete veg om te keer dat gegriefde eks-lede hom beheer van die raad kos.

Oudtshoorn kies nuwe wyksraadslede vir wyke 4, 5 en 10, nadat al drie in Oktober bedank het. Die DA beklee 14 van die 25 setels in Oudtshoorn se raad. As hy die drie wyke verloor, sal sy meerderheid in die raad van 56% tot 44% krimp.

Klein partye soos Icosa en Sarco, wat in ’n onstabiele samewerkingsooreenkoms met die DA is, sal dan kan besluit wie die raad beheer.

In twee van die drie wyke (wyke 4 en 10) het die DA se steunvlak reeds tussen 2016 en 2019 kwaai gedaal (sien grafika).

Die drie voormalige DA-lede – Nellie Soman, Ewa Fortuin en Hendrik Ruiters – het hulle verkiesbaar gestel as onafhanklike kandidate onder die vaandel van die Oudtshoorn Gemeenskaps Inisiatief (OGI), wat gedryf word deur die voormalige DA-burgemeester Colan Sylvester.

Sylvester se lidmaatskap is in Junie opgeskort net dae nadat hy gesê hy wil bedank nadat die DA tugstappe teen hom aangekondig het. Die DA wou klagtes ondersoek dat Sylvester DA-raadslede uit koukusvergaderings uitgesluit en hy die munisipale bestuurder gekeer het om “sekere finansiële beperkings” toe te pas.

Sylvester het beweer die DA probeer keer dat hy korrupsie takel.

Die aanslag op die DA kom nie net van eks-lede nie, maar ook van Patricia de Lille se Good-party, wat ywerig takke in Oudtshoorn stig. In ’n tussenverkiesing op 11 November het Good hoeka heelwat hoofsaaklik bruin kiesers op die Wes-Kaapse platteland by die DA afgerokkel.

Shaun August, voorheen van die DA en deesdae Good-LP, sê plattelandse kiesers soek ’n alternatief vir die DA en die ANC.

Sammy Claassen, ’n politikus wat al bande met die destydse Onafhanklike Demokrate en die ANC gehad het, help Good om takke te stig. “As ons ’n wyk of twee in Oudtshoorn kan afrokkel sal ons baie bly wees,” sê Claassen.

Eleanore Bouw-Spies, die DA se kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn, sê haar grootste bekommernis is nie ander partye nie, maar die opkoms op stemdag. ’n Lae opkoms “bevoordeel kleiner partye”.

Covid-19-uitbrekings in die streek kan dié partye help.

“Kiesers het ons egter die laaste week toegelaat om hulle toe te spreek,” sê Bouw-Spies.

“Ons is ook seker dat ons nuwe kandidate bekende aktiviste in die gemeenskap is in wie die gemeenskap glo.”

Die DA se meerderheid is ook elders in gedrang as slegs enkele wyke sou kantel. In die Langeberg-munisipaliteit in die Wes-Kaap (met die DA op 51%) móét die DA wyk 9 behou waar dié party in 2016 en 2019 nog meer as 61% van die stemme kon lok.

In Gauteng, waar die DA verlede maand vier wyke verloor het, verdedig die party wyke 27 en 28 in Benoni, Ekurhuleni, waar die party in 2016 meer as 90% van die steun getrek het.

Die DA verdedig ook wyk 66 in eThekwini, KwaZulu-Natal, waar die party in 2016 80% van die steun gekry het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.