Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA in Mangaung vra dat munisipale bestuurder bedank
Dirk Kotzé, DA-raadslid. Foto: Argief

Sedert Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, die Mangaung-metro in sy munisipale finansiële verslag vir 2018-’19 die derde agtereenvolgende jaar ’n gekwalifiseerde ouditmening gegee het, het die DA gevra dat adv. Tankiso Mea, die munisipale bestuurder, moet bedank.

So sê Dirk Kotzé, DA-raadslid, in ’n nuusverklaring Donderdag.

“Maar die ANC-geleide Mangaung-metro is steeds nie bereid om die metro en sy inwoners voor ANC-kaders te plaas nie,” sê Kotzé.

“Selfs met die provinsiale ingryping, is die noodsaaklike stap nooit in werking gestel nie,” sê hy.

Hy sê nadat die OG-verslag vir die 2017-’18-boekjaar in 2019 bespreek is, het die DA ’n brief aan Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, geskryf en haar versoek om ’n formele ondersoek na die bestuursvaardighede van die stadsbestuurder te begin.

“Verskeie klagte is teen die stadsbestuurder ingedien, maar die burgemeester het die versoek geweier.

“Mxolisi Siyonzana, die speaker van die raad, het die versoek as ’n mosie in die raad ter tafel gelê, wat toe deur die meerderheidstem van die ANC verwerp is,” sê Kotzé.

Hy sê die OG het in sy verslag gesê die munisipale bestuurder het daarin misluk om senior bestuurders vir die swak prestasie verantwoordbaar te hou.

“Die metro het ’n gekwalifiseerde ouditmening gekry waar dit veral gaan oor agterstallige verlofbetalings, verpligtinge wat werknemervoordele betref wat nie nagekom is nie, inkomste van verkeersboetes wat nie bekom is nie, en onreëlmatige uitgawes wat van die hoogstes in die land is.”

Tankiso Mea, die stadsbestuurder. Foto: Argief

Kotzé sê die Grondwet en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur skryf voor wat gedoen moet word om ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir goeie regering en verantwoordbaarheid.

Hy sê wat werklik skok, is dat die metro vyfde was op die nasionale lys wat sy onreëlmatige besteding betref.

Dit sluit onreëlmatige uitgawes in wat betref meerjarige kontrakte wat in vorige jare toegeken is en die nie-nakoming van verkrygingswetgewing.

In die verslag word ook duidelik gemeld dat Mangaung R2 899 741 aan slegs twee konsultante bestee het.

Die grootste bekommernis vir belastingbetalers is dat die metro die “eerste prys” ontvang het vir ongemagtigde uitgawes.

Die stadsbestuurder, as rekenpligtige amptenaar van die metro, het in die boekjaar 2018-’19 R1,36 miljard op die begroting oorbestee.

Mxolisi Siyonzana, die speaker en die streeksvoorsitter van die ANC in die Mangaung-metro. Foto: Argief

Die oorbesteding van R430 miljoen (43%) hou verband met nie-kontant-aspekte.

Kotzé sê die OG se verslag wys dat die regerende ANC nie vertrou kan word met die belastingbetalers se geld nie en dat kader-ontplooiing hul voorkeur is.

Hy sê as amptelike opposisie het die DA in 2017 teen Mea se aanstelling gestem en daarom word hy gevra om te bedank en sy kantoor onmiddellik te ontruim.

• Mxolisi Siyonzana, die speaker, sê in kommentaar die DA kan nie met ’n mosie van wantroue die stadsbestuurder uit sy pos probeer verwyder nie.

“Die stadsbestuurder is ’n werknemer van die metro wat aansoek gedoen het vir die pos en daarin aangestel is. Pogings om hom uit die pos te kry moet volgens afdeling 27 van die Wet op Arbeidsverhoudinge gedoen word en nie met ’n mosie nie.

“Die regte prosesse moet in so ’n geval gevolg word, anders kan die stadsbestuurder die metro hof toe vat.”

Siyonzana sê verder hy gee toe dat daar onreëlmatighede is, wat ’n bron van kommer is, maar as dit met dié van ander metro’s in die land vergelyk word, is dit nie so buitensporig nie.

“Soms word dit veroorsaak deur onvoorsiene omstandighede of beplanning wat skeefgeloop het. Daar kan so baie redes wees.”

Hy sê indien die opposisie meen die munisipale bestuurder onderpresteer, moet arbeidswetgewing en -prosesse, wat met seksie 57-werknemers verband hou, teen hom gevolg word. Die bepalings van die Wet op Stelsels moet ook nagekom word.

“As daar net geld vir die munisipale bestuurder aangebied word sodat hy kan loop, skep dit die risiko dat hy die metro hof toe kan vat.”

Siyonzana sê as speaker van die raad word van hom verwag om neutraal te bly en sal die hoofsweep of burgemeester eerder geskik wees om te antwoord.

Hy sê boonop is die 2018-’19-verslag van die OG nou in die raad ter tafel gelê en het die publiek 60 dae tyd gekry om hierop te reageer.

Eers dan gaan dit na die toesighoudende komitee van die raad waarna dit vir debatte na die raad teruggebring word.

“Ek meen dit sal voortydig wees om nou reeds standpunte hieroor in die media te plaas.”

Toe Mlamleli om kommentaar genader is, het sy gesê sy is in ’n vergadering en kan nie nou antwoord nie.

Mea het gesê hy dra geen kennis van die aantygings in die DA-verklaring nie.

Meer oor:  Mangaung  |  Munisipale Bestuurder  |  Da  |  Bedanking  |  Ouditeur-Generaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.