Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA kla raad by Groen Skerpioene aan oor rioolvuil

Die DA het die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley by die Groen Skerpioene verkla weens ’n rioolkrisis waarin sommige erwe in Galeshewe met rioolwater oorstroom.

Reinette Liebenberg het die klag ingedien nadat sy en Ofentse Mokae, haar mede-DA-raadslid, ses huishoudings in Thusano besoek het.

“Die munisipaliteit vertrap die menseregte van die inwoners,” sê sy.

“Die erwe oorstroom sedert Februarie vanjaar gereeld. Die agterplase het in rioolvuil-damme ontaard. Die fondamente van HOP-huise bly klam. Een van die inwoners se ingeboude kaste het weens die rioolwater verrot.

’n Agterplaas in Kimberley waarin rioolwater opdam.Foto: Verskaf

“Nog ’n inwoner kan nie haar kind buite laat speel nie uit vrees dat hy kan verdrink. ’n Ander vrou moes ’n brug van stene in die rioolwater bou sodat sy haar wasgoed kan ophang.

“ ’n Gestremde man kan nie veilig in sy tuin beweeg om by die buitetoilet uit te kom nie. Hy is verplig om ’n emmer te gebruik.”

Liebenberg sê mense en troeteldiere ly.

“Hulle word aan onhigiëniese toestande blootgestel wat hul gesondheid bedreig. Die huise het swak ventilasie en die stank is oorweldigend. Die risiko om siektes op te doen is groot.”

Volgens haar is die probleem al etlike kere aangemeld.

“Ronnie Morwe, voorsitter van die komitee vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan, het twee weke gelede op Sol Plaatje se WhatsApp-groep bevestig die taakspan sal dit herstel. Dit is nie opgelos nie.

Só lyk erwe in Galeshewe van die rioolwater. Foto: Verskaf

“Die munisipaliteit ignoreer die vervalle infrastruktuur in die stad en onderhou dit nie na behore nie. Die stad ervaar ernstige rioolprobleme weens swak infrastruktuur. Hulle gebruik kontrakteurs vir korttermynoplossings en blameer graag die inwoners vir verstoppings.

“ ’n Voorbeeld van swak infrastruktuurbeplanning is die rioolprobleme by die Hoërskool Pescodia in Roodepan. Die North Cape Mall moes onlangs ook R4 miljoen bestee om die probleme op te los omdat dié winkelsentrum op rioolpype gebou is.

“Die munisipaliteit hou nie by met die uitbreiding en ontwikkeling van die stad nie.

“Daar is ’n gebrek aan insig en die begroting word nie aangewend om die rioolinfrastruktuur op te knap nie.

Dit kan nie langer geïgnoreer word nie.”

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê die probleem steek aanhoudend kop uit.

“Ons het ons werkers gestuur om dit te probeer oplos. Hulle moet dit oopmaak en kyk hoekom die probleem nie opgelos word nie.

“Ons weet daar is soortgelyke probleme elders in die stad. Een van die oorsake is dat inwoners vreemde voorwerpe in toilette gooi. Ons doen ’n beroep op mense om dit nie te doen nie.”

Meer oor:  Groen Skerpioene  |  Sol Plaatje-Munisipaliteit  |  Kimberley  |  Galeshewe  |  Da  |  Aanklagte  |  Rioolvuil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.