Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA spartel om ANC-skuld in metro’s te delg

Die DA sê die party kan nie die skuld kry vir die grootskaalse onreëlmatige besteding in die metrorade wat Woensdag deur Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), uitgewys is nie.

Athol Trollip

Die party, wat sedert die munisipale regeringsverkiesing in 2016 Tshwane en Johannesburg saam met ander partye regeer en tot Augustus 2018 ook in die Nelson Mandelabaai-metropool in beheer was, wys die vinger na die ANC.

Makwetu het bevind daar was in die oudittydperk van 2017-’18 on­reëlmatige besteding van R2,7 miljard in Nelson Mandelabaai, R1,7 miljard in Tshwane en R707 miljoen in Johannesburg.

Die totale opgehoopte onreëlmatige besteding in die Nelson Mandelabaai-metro beloop nou al R12,4 miljard. “Die meeste hiervan is aangegaan voor 2016,” sê Athol Trollip, destydse DA-burgemeester daar.

Oor Johannesburg het die OG onder meer bevind talle van die DA-metro se prestasies “kon nie bevestig word nie, terwyl ander nie gerugsteun is deur voldoende ouditbewyse nie.”

Trollip sê die DA het pogings aangewend om die skuld in Nelson Mandelabaai af te skryf, maar is deur die EFF-voorsitter van die munisipale openbare rekeningekomitee gekeer.

In Tshwane het die OG bevind dat R838 miljoen (49%) van die on­reëlmatige besteding te wyte is aan kontrakte wat in vorige jare aangegaan is. Dit sluit R600 miljoen in vir die omstrede slim­meterkontrak wat die ANC-beheerde Tshwane-raad met Peu Capital Partners gesluit het en wat in Oktober 2018 deur die hof ongrondwetlik en nietig verklaar is.

Mare-Lise Fourie, DA-burgemeesterskomiteelid vir finansies, sê die metro se onreëlmatige besteding sluit ook in R317 miljoen vir die berugte GladAfrica-kontrak om die metro se kapitaalprojekte te bestuur. Regstappe om die kontrak te kanselleer is nog aan die gang.

Johannesburg se onreëlmatige besteding was R868 miljoen, waarvan R628 miljoen (72%) volgens die OG self uit vorige jare dateer.

Herman Mashaba, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, het Vrydag gesê werk word gemaak van “historiese uitdagings”. 869 sake oor “finansiële wangedrag” word daar ondersoek.

Trollip sê die DA-beheerde raad in die Baai het in 2016-’17 100% van sy kapitale begroting bestee en ’n bonus van R176 miljoen van die tesourie ontvang – ’n eerste in dié metro. In 2017-’18 is 100% van sy toelae vir stedelike vestiging-ontwikkeling bestee en ’n beloning van R200 miljoen is van die tesourie ontvang.

“Vergelyk dit met die huidige dreigement van die tesourie om R420 miljoen terug te neem weens onderbesteding,” sê hy.

Meer oor:  Athol Trollip  |  Skuld  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.