Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA verloor een van sy blinkstes

Ses maande voor die munisipale verkiesing op 27 Oktober is die DA die talent kwyt van een van sy beste burgemeesters, Bongani Baloyi, wat in 2013 as 26-jarige DA-burgemeester van Midvaal in Gauteng geword het.

Die einste Midvaal is pas weer aangewys as een van die bes bestuurde metro­rade in die land.

Bongani Baloyi

Die nuus oor Baloyi kom op ’n besonder slegte tyd vir die DA. Donderdag is Jacques Smalle, voormalige DA-leier in Limpopo, geskors. Verlede week is Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier, te midde van ’n kwalifikasieskandaal geskors.

Smalle is tydelik uit die party geskors ná ’n ondersoek deur die party se regskommissie oor die misbruik van geld wat aan die party behoort. Sy termyn van agt jaar het in Maart verstryk kort voordat die party sy leierskongres in Limpopo uitgestel het weens inligting wat “implikasies vir ’n vry en regverdige kongres inhou”.

Smalle het teen Solly Malatsi, LP en voormalige nasionale woordvoerder vir die DA, gestaan vir die toppos in Limpopo.

Die party se bestuur in die provinsie is sedertdien onder administrasie geplaas.

Smalle, wat in November as die DA se adjunk- federale voorsitter verkies is, is Donderdag deur die party se federale uitvoerende komitee uit alle party-aktiwiteite geskors nadat die regskommissie sy skorsing aanbeveel het hangende ’n dissiplinêre proses.

Smalle mag met sy werk as LPW in Limpopo voortgaan.

Die regskommissie het bevind Smalle het tussen 1 April 2018 en 30 Junie 2019 DA-beleid oortree deur reis- en verblyftoelaes in ’n bankrekening van een van sy assistente te laat oorbetaal pleks van sy eie.

“Ek pleit weer ek is onskuldig en wag vir die party om sy ondersoek af te handel en die nodige proses te volg,” het Smalle aan Rapport gesê.

Madikizela, Wes-Kaapse LUR vir vervoer, is tot 29 April uit sy leierspos en amp geskors hangende ’n ondersoek na bewerings dat hy oor sy akademiese kwalifikasies gelieg het.

Bewerings is die afgelope week ook in die DA-beheerde Saldanhabaai-munisipaliteit gemaak dat Marius Koen, DA-burgemeester, gelieg het oor ’n meestersgraad wat hy luidens sy CV aan die Universiteit van Hull in Brittanje verwerf het. Die bewering is gemaak deur raadslid Jaco Kotze van die Saldanhabaai-inwonersvereniging.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het bevestig die party het die universiteit vir bevestiging gevra dat Koen daar gegradueer het.

Die gemeenskapskoerant in Saldanhabaai, Weslander, het Donderdag berig Koen het sy graadsertifikaat aan dié koerant gewys. “ ’n Mens moet besef dit is nou ’n gekke-seisoen voor die verkiesing en politieke partye gaan alles doen om die opposisie te ondermyn,” het Koen aan Weslander gesê.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit, waar Koen sedert 2016 burgemeester is, is verlede week deur die onafhanklike Ratings Afrika as die tweede beste munisipaliteit in Suid-Afrika aangewys.

Midvaal is in dieselfde peiling as vyfde beste aangewys.

Baloyi het Vrydag aan Rapport bevestig hy sal nie verkiesbaar wees in vanjaar se munisipale verkiesing nie.

Baloyi is al tien jaar ’n raadslid in Midvaal en agt jaar burgemeester.

“Daar’s geen storie oor hoekom ek nie weer verkiesbaar is nie. Die feit is net dat die posisie sy tol op my en my familie eis,” sê Baloyi, wat ’n DA-lid sal bly.

“Ek is 34 jaar oud, maar voel of ek 50 is en ek het die beste dae van my jeug vir hierdie pos gegee.”

Baloyi sê bewerings dat hy ontevrede is met die DA-bestuur is onwaar.

“Ek kompartementaliseer sulke goed. Wat maak dit saak wat ek of die (DA-) leiers van mekaar dink? Ek moet seker maak Midvaal se water en ligte is aan.”

Sy opvolger word nog gekies. DA-LP’s het op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport gesê Baloyi se besluit is ’n terugslag vir die party in Gauteng, veral nadat die Tshwane-metro, die DA se enigste ander Gautengse metroraad, deur Ratings Afrika aangewys is as die metro met die swakste bestuursgeskiedenis (lees Kruisverhoor in Weekliks).

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het Tshwane se skuld die afgelope week afgegradeer omdat die stad se kontant en korttermynbeleggings van R2,2 miljard (in Junie) tot R1,1 miljard in Februarie vanjaar afgeneem het.

Meer oor:  Jacques Smalle  |  Bonginkosi Madikizela  |  Bongani Baloyi  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.