Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
DA vra weer Cogta se ingryping by Nelson Mandelabaai

Die DA in die Nelson Mandelabaai-metro se munisipaliteit het Woensdag opnuut die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) versoek om by die metro in te gryp.

Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat vir die Oos-Kaap, het Woensdag die versoek om art. 154 in werking te stel aan Zweli Mkhize, minister van Cogta, en Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR vir Cogta, gestuur.

Athol Trollip, voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro-munisipaliteit. Foto: Cara-Lee Dorfling

Athol Trollip, die DA se federale voorsitter en voormalige burgemeester van die metro, het Woensdagmiddag op ’n nuuskonferensie die party se redes verskaf oor hoekom die dringende ingryping geëis word.

“Vir die DA om ’n nuuskonferensie te hou en te sê ons glo nie die munisipaliteit kan meer sy eie sake bestuur nie, is ’n aanduiding van ’n soort desperaatheid,” het Trollip gesê.

Hy het verwys na Makhanda (Grahamstad) wat vanjaar ernstige waterprobleme ondervind het, en gesê die metro kan nie dieselfde pad stap nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en Oscar Mabuyane, ANC-leier in die Oos-Kaap, het albei vroeër die maand gesê die huidige koalisieregering in die metro, wat die ANC insluit, werk nie.

Trollip het na dié opmerkings verwys en gesê dit is geen geheim dat dié munisipaliteit uitmekaarval nie, en dit is tyd om te red wat te redde is.

Volgens Trollip het die probleme in die metro begin die dag toe Johann Mettler, stadsbestuurder, geskors is.

Mongameli Bobani, burgemeester van die nuwe koalisieregering, het Mettler weens verskeie beweerde dissiplinêre oortredings geskors kort nadat die DA-koalisieregering verlede jaar uitgestem is. Slegs een van die oortredings staan nog – die beweerde verkeerde advies wat hy op ’n raadsvergadering gegee het.

Trollip het gesê die aanstelling van Peter Neilson as waarnemende stadsbestuurder is onreëlmatig. Hy meen Neilson het nie die voorgeskrewe vaardighede vir dié amp nie.

Bobani het egter gesê daar is reeds in Desember oor dié aanstelling in die raad gestem en daar is besluit dat Neilson moet bly.

Trollip het aangevoer dat ’n onlangse voorbeeld van Neilson se onvermoë is toe hy versuim het om die raadslede korrek te adviseer oor hul besluit om die mandaat van die regsfirma Gray Moodliar Inc., die metro se amptelike regsdienste, op 16 April te beëindig.

Die firma was een van hoofagente wat bedrog en korrupsie van die geïntegreerde openbare vervoerdiens (IPTS) van die metro gehanteer het.

Bewerings van Bobani se betrokkenheid by die beweerde IPTS-bedrog was glo die rede agter die Valke se klopjag op sy kantoor in Oktober, waartydens op dokumente beslag gelê is.

Volgens Trollip het Bobani weens dié beweerde bedrog botsende belange gehad deur die regsfirma se mandaat te beëindig, en hy moes dit verklaar het. Hy het gesê in só ’n geval was dit Neilson se werk om Bobani hieroor aan te spreek.

Trollip het gesê Bobani het die raad se goedkeuring gekry om die regsfirma se mandaat te beëindig deur misleidende inligting op die raadsvergadering voor te hou.

Hiervoor het Trollip Woensdag strafregtelike klagte teen Bobani en Neilson aanhangig gemaak.

Die DA wil hiermee weer deur die agterdeur inkom om te regeer. Hulle moet aanvaar hulle is nou die opposisie.
Mongameli Bobani, burgemeester van die nuwe koalisieregering

Bobani het in reaksie gesê: “Die DA was nie op dié vergadering teenwoordig nie. Hulle het weggehardloop toe die saak bespreek word. Die DA behoort van beter te weet, hulle moet enige vrae oor besluite wat geneem is deur die regte kanale aan die raad vra en nie met alles na die media hardloop nie.”

Trollip het ook gesê met slegs twee maande voor die einde van die boekjaar was die metro se kapitaalbesteding op 9 April 33%. Die metro se invorderingskoers het volgens hom ook met bykans 3% geval, wat daartoe gelei het dat R175 miljoen nie ingevorder is nie.

Nog ’n bekommernis, volgens Trollip, is dat die koalisieregering versuim het om die 2019-’20-konsepbegroting voor die spertyd ter tafel te lê.

Bobani het later Woensdagmiddag by navraag beweer dat die metro se finansiële sake die goedkeuring van die nasionale tesourie het.

Hy het gesê daar is ook geen gronde wat die ingryping ingevolge art. 154 regverdig nie. “Die DA wil hiermee weer deur die agterdeur inkom om te regeer. Hulle moet aanvaar hulle is nou die opposisie. Die metro se mense staan agter ons.”

Trollip het gesê die versoek dat Cogta ingryp, volg op ’n soortgelyke versoek in November wat geen resultate opgelewer het nie.

Mamkeli Ngam, woordvoerder van Cogta in die Oos-Kaap, het Woensdag gesê die LUR het nog geen korrespondensie oor art.154 vir die metro van die DA ontvang nie.

Musa Zondi, Mkhize se woordvoerder, het nie onmiddellik op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Da  |  Cogta  |  Verkiesing 2019  |  Nqaba Bhanga  |  Oos-Kaap  |  Nelson Mandelabaai  |  Koalisieregering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.