Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Danksy goeie bestuur, ‘kan hulle nou geld bestee waar dit nodig is’

Die raad van die Kouga-munisipaliteit het die eerste keer in sy geskiedenis ’n aansuiweringsbegroting van R1 miljard goedgekeur.

Horatio Hendricks
Horatio Hendricks, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit. Foto: Argief

Horatio Hendricks, burgemeester, het vandeesweek gesê hy is baie bly hulle kon die raad se finansies op ’n verantwoordelike en omsigtige manier bestuur, want dit stel hulle in staat om die geld te bestee waar dit benodig word.

Kouga se bedryfsuitgawes beloop R925 miljoen, terwyl die goedgekeurde kapitaalbegroting net meer as R194 miljoen is. Dit is gelykstaande aan ’n uitgawebegroting van meer as R1,1 miljard.

Van die kapitaalbegroting is R56,7 miljoen intern genereer, terwyl R137,9 miljoen in die vorm van nasionale regeringstoelaes verkry is.

Die regeringstoelaes sluit nagenoeg R100 miljoen se droogtefondse in, wat in die vorige boekjaar van die nasionale tesourie ontvang is.

Die geld wat verkry is vir die droogte word bestee aan navorsing oor grondwater, die koppeling van nuwe boorgate aan die waternetwerk, die opknapping van infrastruktuur en om te bepaal wat waterverliese oor Kouga heen veroorsaak.

Al die waterprojekte gaan na verwagting einde Junie afgehandel wees.

Die doel is om te verseker Kouga het water tydens die nypende droogte, sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

Kouga sluit Jeffreysbaai, St. Francisbaai, Oesterbaai en Humansdorp in.

Kouga verkry die meerderheid van sy inkomste uit die verkoop van elektrisiteit (R274 miljoen), eiendomsbelasting (R188,8 miljoen), die verkoop van water (R75,7 miljoen), afvalwaterbestuur (R50 miljoen) en vullisverwydering (R37 miljoen).

Hendricks sê bedryfstoelaes beloop R133 miljoen, skuld het drasties afgeneem en die ouditeur-generaal het die eerste keer nie ’n bevinding gemaak oor krediteure wat langer as 30 dae vir betalings wag nie.

Hulle kan nou geld vir dienslewering beskikbaar stel, meen hy.

Hoewel daar steeds uitdagings by die verkeersafdeling in Humansdorp is, is ’n bykomende R3 miljoen begroot vir lisensies, want die inkomste van die verkeersafdeling is vir die eerste ses maande van die finansiële jaar in die rooi.

’n Bykomende R3 miljoen is ook begroot vir die aankoop van asblikke op wiele om seker te maak elke huishouding in Kouga het ’n asblik.

Oor die herstel van paaie in Kouga sê Hendricks hulle het ’n agterstand van tussen R500 miljoen en R600 miljoen by die vorige regering geërf. Altesaam R25 miljoen is vir die herstel van paaie begroot om die agterstand te probeer inhaal.

“Met die massiewe agterstand waardeur ons in die gesig gestaar word, gaan dit ’n langtermynprojek wees om die paaie op te knap, maar ons het daarmee begin.

“Ons gaan voort om in ons padvervoernetwerk te belê om die lewe van ons inwoners en die waarde van eiendomme te verbeter. Ons wil beleggers na Kouga lok,” sê Hendricks.

Meer oor:  Jeffreysbaai  |  St. Francisbaai  |  Humansdorp  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.