Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Deeltitel-eienaars in Bloem wil hof toe oor afsny van water

Beheerliggame en eienaars van meenthuiskomplekse en ander deeltitelskemas in Bloemfontein wil hulle tot die hof wend omdat die Mangaung-metro glo hul watertoevoer as deel van ’n projek teen agterstallige erfbelasting en ander munisipale dienstegeld onwettig afsny.

Mike Spencer, wie se onderneming die afgelope 35 jaar deeltitelskemas in die stad bestuur, sê hy weet van minstens 30 meenthuiskomplekse waarvan die metro die watertoevoer afgesny het.

Hy sê dit is onwettig omdat dit nie die beheerliggaam of eienaars van deeltitelskemas se verantwoordelikheid is om erfbelasting vir die metro in te vorder nie.

Die Glaspaleis in Bloemfontein. Foto: Verskaf

“Deeltitelskemas se eienaars en die beheerliggame kan net vir die water en elektrisiteit van die eenheid verantwoordelik gehou word. Die wet bepaal dat erfbelasting die individuele eienaars se verantwoordelikheid is.

“Ons het regshulp gekry en wou hof toe gaan waarna die metro weer die watertoevoer in een van ons geboue aangeskakel het.”

Ryan Green, ’n Bloemfonteinse prokureur wat namens heelparty van die meenthuiskomplekse en deeltitelskemas wil optree, het erken dat hy gevra is om met die metro in dié verband in verbinding te tree.

Ook die bestuur van National Real Estate, wat deeltitelskemas in Bloemfontein bestuur, sê in ’n omsendbrief aan sy kliënte dat die metro deeltitelskemas se water afsny weens erfbelasting wat nie betaal is nie en dat hy van mening is dat dit onwettig en ongrondwetlik is.

Die metro het ook nie vooraf kennis gegee soos deur die wet vereis word nie.

“Ons is in die proses om regsadvies in te win,” lui die brief.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê dit is sleg dat dit die inwoners van meenthuise en ander deeltitelskemas nou in die middel van die somer en die koronaviruspandemie tref. “Ek sal voorstel dat individue en beheerliggame of eienaars van deeltitel-komplekse so vinnig as moontlik met die munisipaliteit kontak maak om die probleem op te los en die lewering van water te bespoedig.”

Hy sê hy het ook oproepe van klaers ontvang.

“Dit sou goed gewees het as die munisipaliteit raadslede vooraf hiervan in kennis gestel het sodat ons inwoners in ons wyke daarvan kon inlig.”

Hy sê hy het Donderdag met inwoners te make gehad wat om 18:00 van die werk af gekom en besef het dat hulle nie water het nie.

Hans Britz, DA-raadslid, het vroeër gesê inwoners het die metro teen einde November verlede jaar reeds R6,856 miljard geskuld.

Die eienaars en bestuurders van deeltitelskemas het verantwoordelikheid vir dié skemas geneem.

Adriaan de Bruyn, VF Plus-raadslid, sê dit is onaanvaarbaar dat sommige mense in deeltitelskemas sonder water moet klaarkom, terwyl hul munisipale rekenings ten volle betaal is, maar die water weens ’n paar wanbetalers afgesny word.

“As die munisipaliteit net sorg dat hy sy maandelikse lesings doen en byhou, sal daar nie sulke groot agterstande in die skuldinvordering wees wat ingehaal moet word nie.”

Adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die metro, sê hy wil graag dienslewering in die stad verbeter, maar kan dit nie met leë hande doen nie.

“Ons wil weer ’n kultuur van betaling terugbring. Die volgende is dat mense kla dat Bloemfontein vuil is en dan is daar nie geld om die stad behoorlik skoon te maak nie.”

Hy sê hy is bewus van die program onder leiding van die finansiële hoof om water af te sny.

“Die eienaars en bestuurders van deeltitelskemas het verantwoordelikheid vir dié skemas geneem. Hulle gebruik die geld wat hul kopers en huurders aan hulle oorbetaal, maar betaal nie die metro nie. Hulle moet leer om te betaal.”

Hy wou hom nie uitlaat op die vraag of die metro die deeltitelskemas se water kan afsny of verminder omdat erfbelasting nie betaal is nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Eiendomme  |  Water  |  Deeltitel  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.