Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Denel ‘betaal R290 m. terug aan Johannesburg’

Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel het die R290 miljoen wat hy aan die Johannesburgse metroraad geskuld het, terugbetaal, het Wim de Klerk, tussentydse finansiële hoof van Denel, Maandag bevestig.

“Denel het sy finansiële verpligtinge teenoor die metro nagekom en die R290 miljoen-lening ten volle vereffen. Denel het genoeg geld in die effektemark hiervoor bekom,” sê De Klerk.

“Dit is ’n sege vir belastingbetalers. Dis net jammer dat dié belastingbetalers eers daaronder moes ly,” het Herman Mashaba, die stad se burgemeester, Maandagmiddag by navraag gesê. Hy sê die geld gaan reguit terug na die stad se delgingsfonds.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg. Foto: Argief

Mashaba het Maandagoggend, nadat Denel se betaaldatum vroeër op versoek van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, tot 10 Desember uitgestel is, gesê hy wag nie ’n dag langer vir die wapenhandelaar se betaling nie.

Mashaba het in der waarheid gereed gestaan om ’n aansoek by die hooggeregshof in te dien om die wapenvervaardiger te laat likwideer as “inwoners se geld” nie teen die einde van die werkdag terugbetaal is nie.

In 2013 en 2014 het Denel onversekerde skuldbriewe uitgereik wat op 10 Junie 2018 vereffen moes word. Regiments Capital, as fondsbestuurder van die metro se delgingsfonds, het dié skuldbriewe ter waarde van R290 miljoen vir die fonds gekoop.

Regiments Capital is later aan die omstrede Gupta-familie verbind.

Die lening is deur die vorige ANC-metroraad aan Denel toegestaan.

Die delgingsfonds was deel van die metro se beleggingstruktuur en hy het dit gebruik om die metro se oorgeërfde skuld te kan delg.

Op 5 Junie 2018 het die departement van openbare ondernemings, as een van Denel se belanghebbendes, die metro in kennis gestel dat die wapenmaatskappy weens likiditeitsuitdagings nie die skuldbriewe op die aangeduide datum kan vereffen nie.

Hierdie lening, soos alle ander lenings in die program, is by die JSE geregistreer.
Pravin Gordhan

Die departement wou oor ’n latere betaaldatum onderhandel om te voorkom dat Denel hom aan wanbetaling skuldig maak.

Luidens die verklaring het Gordhan namens die departement met die metro op die latere datum ooreengekom.

Denel moes dié ekstra tyd gebruik om ’n sakereddingstrategie op te stel om sy finansiële en likiditeitsposisie te stabiliseer.

In ’n geskrewe antwoord op ’n vraag in die parlement op 31 Augustus vanjaar oor of die lening wettig was, het Gordhan gesê dit is op 4 September 2012 deur Denel se direksie goedgekeur.

“Die tesourie en die departement van openbare ondernemings het die leningsgerief vir R2,2 miljard goedgekeur. Dit het versekerde en onversekerde komponente ingesluit.”

Luidens Gordhan se antwoord was die lening van R290 miljoen deel van die onversekerde komponent.

“Hierdie lening, soos alle ander lenings in die program, is by die JSE geregistreer.”

Meer oor:  Denel  |  Herman Mashaba  |  Munisipaliteite  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.