Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Derde van SA dalk in donker

Eskom het volgens die energiereguleerder (Nersa) planne om sowat ’n derde van alle munisipaliteite in Suid-Afrika se krag af te sit omdat hulle die voorwaardes van hul verskaffingskontrakte met Eskom verbreek.

Dit sal volgens die politieke ontleder Theo Venter ekonomies en maatskaplik rampspoedig wees vir die land.

Hy sê dit is nie polities haalbaar vir Eskom om sulke omvangryke afsnydings te doen nie, veral nie met die munisipale verkiesing wat om die draai is nie.

Inwoners van Naledi in Soweto het juis die afgelope week ’n tussenverkiesing daar ontwrig omdat hulle al maande lank sonder elektrisiteit sit. Hulle koop hul krag direk van Eskom.

Charles Hlebela, Nersa-woordvoerder, het Vrydag die bestaan van dié lys van 92 munisipaliteite aan Rapport bevestig, maar wou nie sê watter van die land se 278 plaaslike owerhede in die spervuur is nie.

Ramp vir land, maan ontleder.

Eskom kon nie voor druktyd Rapport se vrae daaroor beantwoord nie.

Volgens Hlebela is Nersa besig om tribunale saam te stel vir elkeen van die munisipaliteite waar die kwessie deurgetrap kan word.

Nersa het nog nie dokumente daaroor aan die betrokke munisipaliteite beteken nie en daarom swyg hy vir eers oor wie hulle is.

Die tribunale sal waarskynlik ook die korrektheid van Eskom se rekeninge nagaan.

Dit is nie duidelik wanneer die sittings sal begin nie.

Die kontrakbreuk waaraan die munisipaliteite hulle volgens Eskom skuldig maak, sluit waarskynlik wanbetaling in, asook die oorskryding van die maksimum aanvraag waarop die munisipaliteite met Eskom ooreengekom het.

Eskom het die afgelope paar maande sy pogings verskerp om agterstallige skuld van munisipaliteite in te vorder.

Hy het hom onder meer gewend tot die vermindering van kragtoevoer waar munisipaliteite hul ooreengekome maksimum aanvraag oorskry.

Dit het gelei tot ’n nuwe verskynsel genaamd verpligte vraagvermindering, wat bo en behalwe die reeds bekende beurtkrag toegepas word.

Die kragreus het ook beslag gelê op die bankrekeninge van ’n paar munisipaliteite. Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit, wat in Harrismith in die Vrystaat gesetel is, was een van hulle, maar het die afgelope week weer toegang tot die rekening gekry ná die soveelste regsgeveg hieroor in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Eskom sê munisipaliteite se groterwordende skuld bedreig die volhoubaarheid van die kragverskaffer.

Die departement van openbare ondernemings het in ’n onlangse parlementêre antwoord gesê munisipaliteite het hom teen 1 Julie vanjaar R31 miljard geskuld.

Maar op ’n vergadering van Nersa se subkomitee vir elektrisiteit Woensdag het amptenare en reguleerder­lede die mening uitgespreek dat ’n baie groot deel daarvan uit boetes en rente bestaan.

Volgens Nomfundo Maseti, ’n reguleerderlid, hef Eskom rente op rente. Dit maak dit vir munisipaliteite moeilik om hul rekenings te betaal en jaag tariewe op, het sy gesê.

Eskom het self die afgelope week aan Rapport bevestig dat hy rente op agterstallige betalings hef teen ’n koers van prima plus 5%.

Met die bekendmaking van Eskom se jaarresultate het dit geblyk dat Eskom byna R8 miljard van huishoudings in Soweto se skuld afgeskryf het.

Dit is meer as 40% van die bedrag wat Soweto se inwoners aan die einde van die 2018-boekjaar aan Eskom geskuld het.

Dié afskrywing hou verband met 10 166 rekeninge van huishoudings in Soweto wat hul krag direk van Eskom koop en is volgens Eskom oor die afgelope 15 jaar opgebou.

Van die R7,9 miljard wat afgeskryf is, was R2,6 miljard skuld wat verjaar het en die balans was rente wat nie gehef kon word nie as gevolg van die regsbeginsel dat die rente nie tot meer as die uitstaande hoofskuld mag oploop nie.

Die Soweto-afskrywings laat die vraag ontstaan of munisipaliteite se skuldsyfers korrek is.

Maluti-a-Phofung skuld byvoorbeeld volgens Eskom R5,4 miljard, waarvan sowat R1,5 miljard rente is. Die bedrag sluit ook boetes in, maar dit is onseker hoeveel.

Maluti-a-Phofung se prokureur, Bertus Maritz, trek Eskom se syfers in twyfel.

Nersa het vandeesweek besluit om voort te gaan met openbare konsultasie oor veranderinge aan die reëls ten opsigte van maksimum aanvraag, deur middel waarvan Eskom reusagtige boetes mag hef as sy kliënte hul maksimum aanvraag oorskry.

Rapport het vroeër berig dat dié boetes eksponensieel groei elke keer wanneer só ’n oorskryding plaasvind.

Die doel van die boetes is om Eskom se kliënte te dwing om nie meer krag te gebruik as waarop ooreengekom is nie en só te verseker dat die infrastruktuur nie oorlaai word nie.

Maseti het in die vergadering voorgestel dat die bestaande reëls opgeskort word totdat die gewysigde regulasies gefinaliseer is.

Sy het verder voorgestel dat Eskom ook beboet moet word as hy nie sy kant van die ooreenkoms nakom deur ononderbroke krag te lewer nie.

Geen besluit is nog geneem oor dié voorstelle nie.

Volgens Eskom het hy tot Augustus dié boekjaar sowat R200 miljoen se boetes gehef waar munisipaliteite hul maksimum aanvraag oorskry het.

Dit is nie duidelik hoeveel munisipaliteite sulke boetes gekry het nie.

Meer oor:  Theo Venter  |  Soweto  |  Maluti-A-Phofung  |  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Nersa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.