Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het munisipaliteite en plaaslike owerhede versoek om die Wet op die Beskerming van Kritieke Infrastruktuur noukeurig te bestudeer sodat dit so spoedig moontlik in werking gestel kan word.
Die wet, wat in November deur die president goedgekeur is, maak voorsiening vir die beskerming van kritieke infrastruktuur en vir beslissende optrede teen diegene wat dit beskadig.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Johathan Lestrade
Ingevolge dié wet sal mense wat byvoorbeeld treine aan die brand steek tot 20 jaar tronkstraf opgelê kan word.
Fritz het ’n beroep op alle departemente en munisipaliteite gedoen om die wet te bestudeer en te verseker dat dit vinnig toegepas word.
Die LUR sê dat die wet ’n streng waarskuwing rig aan diegene wat die provinsie se openbare vervoerstelsel wil verlam.
“Kritieke infrastruktuur sluit elke gebou, sentrum, instelling, pypleiding, perseel of stelsels in wat nodig is vir die land om te funksioneer. Vervoernetwerke en krag- en waterverskaffers is deel hiervan.”
Fritz sê in die lig van aanvalle op die openbare vervoerstelsel in die Wes-Kaap, het die wet ten doel om die stelsel te stabiliseer.
“Ek verwelkom die wet wat van krag sal word op ’n datum wat die president in die Staatskoerant sal afkondig. Die minister van polisie, Bheki Cele, moet dan die genoemde infrastruktuur tot kritieke infrastruktuur verklaar voordat die wet daarop van toepassing is.
“Ek is veral bly oor art. 26(3) en (4) van die wet wat voorsiening maak vir beslissende stappe teen diegene wat beoog om skade aan te rig of skade aangerig het aan kritieke infrastruktuur.”
Intussen is ’n beloning van R100 000 uitgeloof vir inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van die vier verdagtes kan lei wat twee weke gelede treinwaens op die Kaapstad-stasie aan die brand gesteek het.
Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het dié beloning uitgeloof nadat 18 treinwaens by die stasie uitgebrand het en skade van sowat R60 miljoen aangerig is.
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Williams, by 078 037 5969 bel. Alle inligting sal as vertroulik gehanteer word.