Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tshwane: Dienslewering die enigste prioriteit, sê Mokgalapa

“Dienslewering is die enigste prioriteit.”

Met dié titel vir sy stadsrede het Stevens Mokgalapa, die Tshwane-metro se burgemeester, Donderdag in Tshwane-huis belowe om die stad se kontantvloei streng te beheer en ontslae te raak van diensverskaffers wat nie gehaltewerk lewer nie.

Stevens Mokgalapa
Stevens Makgalapa, die DA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane. Foto: PEOPLE’S ASSEMBLY

As deel van sy “visie vir Tshwane” sal daar eerste aandag gegee word aan die verbetering van sakestelsels sodat verskaffers en diensverskaffers binne 30 dae betaal word, juis om hulle te ondersteun. Diegene wie se werk egter nie na wens is nie, se kontrakte sal beëindig word.

Mokgalapa het gespog met die 60 000 werkgeleenthede wat sedert 2016 onder die DA-beheerde metro geskep is. “Die metro het vir homself die reuse-uitdaging gestel om 104 000 werkgeleenthede te skep, waarvan 67% reeds verwesenlik is. Dit is verblydend dat ons reeds teen die middel van ons termyn ons doelwitte vir beleggings en werkskepping oortref het.”

Hoewel die DA-beheerde metro ’n tekort van R1,4 miljard van die ANC “geërf” het, het hy volgens Mokgalapa met gesonde finansiële bestuur nogtans daarin geslaag om sedertdien R4,73 miljard te genereer.

In die 60 dae sedert hy as burgemeester oorgeneem het, het hy die metro se ooreenkoms met GladAfrica gekanselleer en opdrag gegee dat die stad se oudit- en nakomingskomitee dit ondersoek. GladAfrica is ’n ingenieursmaatskappy wat in 2017 ’n kontrak van miljoene rande gekry het om oor die metro se infrastruktuurprojekte toesig te hou. Die ouditeur-generaal het bevind die tenderproses was onreëlmatig.

ANC-raadslede het net voordat Mokgalapa met sy stadsrede begin het uit die raadsaal gestap.

Dit is voorafgegaan deur ANC-raadslede wat hul misnoeë uitgespreek het omdat dit in Tshwane-huis in die middestad van Pretoria gehou word en oor die ontwrigting wat die straatsluitings veroorsaak het.

Die DA is ook ingevlieg omdat hy glo nie aandag gee aan die betogings in Hammanskraal, noord van Pretoria, nie.

Abel Tau, die DA se streekvoorsitter, het gesê die ANC-raadslede is welkom om te gaan omdat hulle nie sal toelaat dat die rede gekaap word nie. Hy het die ANC ook daarvan beskuldig dat die party die betogings in die stad aanhits.

“Ons sal nie deur hierdie booswigte genaamd die ANC geïntimideer word nie. Hulle het paaie afgesper en daartoe bygedra dat skole ontwrig word. Ek wil dit duidelik maak dat ons die stad aan die gang sal kry. Ons moedig mense van Tshwane aan om die ANC en sy vuilspel te verwerp,” het Tau gesê.

EFF-raadslede het hulle by Mokgalapa geskaar en bly sit om na sy stadsrede te luister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.