Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Dienste hervat in W-Kaap wyl syfers daal

Die Wes-Kaap se gesondheidstelsel maak gereed om al hoe meer van sy dienste te hervat namate die getal Covid-19-pasiënte verder daal.

Dr. Keith Cloete, hoof van die provinsiale departement van gesondheid, het Donderdag bevestig die koers van toetspositiwiteit in die Wes-Kaap het tot onder 10% gesak en is die laagste in die land. Dit was te wagte omdat die provinsie vroeër sy piek bereik het.

Verder het die getal Covid-19-gevalle, hospitalisasies en sterftes ook gedaal. Dit word bewys deur ’n afname in die gebruik van suurstof vir behandeling, volgens Cloete.

Hy het die middag ook gesê die toetskriteria in die Kaapstadse metrogebied is verslap.

Die sewe-dag gemiddeld staan op sowat 120 gevalle. Dit is 10% van die 1 360 gevalle tydens die piek.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid. Foto: Jaco Marais

Daar is gemiddeld 15 sterftes wat 29% is van die 52 sterftes teen piektyd.

Hospitaalopnames het afgeneem tot gemiddeld 700 (35%), teenoor 2 000 tydens die piek.

“Ons is werklik uit die eerste vlaag en sak terug tot die basislyn.”

Teenoor ander provinsies lyk dit asof die Wes-Kaap ’n laer piek gehad het, maar oor ’n langer tydperk, sê Cloete.

Die druk op die gesondheidstelsel weens Covid-19 het geweldig in die metropool en meer onlangs ook in die landelike distrikte verlig.

Daarom gebruik hospitale in Kaapstad die ruimte wat oopgaan om ander “omvattende kliniese dienste” te lewer.

Dokters en verpleegsters van die metro staan ook kollegas in ander distrikte by.

Volgens Cloete is daar tans net 29 pasiënte in die Brackengate-veldhospitaal in die noordelike voorstede en vier pasiënte in die Sonstraal-hospitaal in die Paarl.

Die departement oorweeg om mense wat vir Covid-19 ondersoek word en waar daar op die toetsuitslae gewag word, na Brackengate oor te plaas om nog plek in hospitale beskikbaar te maak.

Die Brackengate-hospitaal het 330 beddens en die Sonstraal-hospitaal het 63 wat in sy eerste fase beskikbaar gemaak is.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Cloete sê ’n afname in die gebruik van primêre gesondheidsorggeriewe soos klinieke en gemeenskapsentrums vergeleke met 2019 is waargeneem.

Besoeke het van 400 000 mense van Januarie tot Maart 2019 tot minder as 250 000 mense van April tot Junie 2020 afgeneem.

“Die probleem is dat ons nie kan terugkeer tot stampvol gesondheidsgeriewe ná Covid-19 nie. Die nuwe realiteit is nie om weer oorvol te raak nie, maar dinge anders te doen.”

In die Kaapstadse metrogebied het besoeke aan primêre gesondheidsorggeriewe met 42,4% gedaal in Junie 2020 teenoor Junie 2019 en in landelike distrikte het dit met 26% in die ooreenstemmende tydperk afgeneem.

Dit is baie moeilik om bedrywighede in die gesondheidstelsel te hervat en ons het ’n span aangewys wat kyk na hoe dit stelselmatig gedoen kan word.

Inentings het ook met 12,8% in die metro gedaal, maar teen Junie weer begin toeneem, terwyl dit in landelike distrikte met 10,2% afgeneem het en in Mei en Junie begin styg het.

Daarby het operasies in hospitale in die metro met 48% gedaal in Junie 2020 teenoor Junie 2019 en met 39,8% in die landelike distrikte.

Nog ’n groot uitwerking van die pandemie is op die toetsing vir tuberkulose (TB), wat landwyd met 47% gedaal het, luidens Cloete se voorlegging.

Hy sê die provinsiale departement gaan daarop fokus om toetsing in die volgende ses maande te verskerp.

“Dit is baie moeilik om bedrywighede in die gesondheidstelsel te hervat en ons het ’n span aangewys wat kyk na hoe dit stelselmatig gedoen kan word.”

Ons het dele van die sektor wat spesifiek op buitelandse reisigers gefokus is en daarop moet fokus om veilig te kan heropen.

Alan Winde, premier, sê die samelewing in geheel sal moet saamstaan om die ekonomie weer aan die gang te kry ná die uitwerking van die pandemie en inperkings.

“Die staat het ’n rol om te speel om ’n omgewing te skep wat mense aanspoor en bemagtig, maar almal sal moet verenig.”

Hy het die middag bevestig die provinsiale kabinet vergader Vrydag oor die verdere opening van die ekonomie en om ’n amptelike standpunt in te neem om aan die president voor te lê tydens sy volgende konsultasies.

Winde het ook gesê die provinsie is gereed om meer besoekers te ontvang en daar sal protokolle wees namate internasionale reise hervat word, veral vir die toerisme- en gasvryheidsbedrywe.

“Ons het dele van die sektor wat spesifiek op buitelandse reisigers gefokus is en daarop moet fokus om veilig te kan heropen.”

Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het in ’n verklaring bevestig 1 505 mense in tehuise oor die provinsie heen het van Covid-19 herstel en daar is tans 66 aktiewe gevalle.

In die afgelope week het die getal mense wat herstel het met 102 gestyg en die aktiewe gevalle het met 34 gedaal.

In die Wes-Kaap is daar 300 tehuise, waarvan 117 deur die provinsiale departement befonds word.

Kyk die volle uitsending hier:


Meer oor:  Keith Cloete  |  Wes-Kaap  |  Syfers  |  Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.