Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Dinge begin gebeur in Emfuleni

’n “Omdraaistrategie” is die afgelope paar dae by die vervalle en bankrot Emfuleni- plaaslike owerheid in werking gestel.

Dit kom nadat Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, verlede week R200 miljoen beloof het om onder meer rioolpompstasies en aanlegte, asook vullisverwydering, reg te ruk.

R5 miljoen van dié beloofde geld is glo reeds aan Emfuleni oorbetaal.

Ons grootse kopseer in dié opsig is inwoners van Emfuleni wat onwettige stortingsterreine rondom die woongebiede begin het.

Volgens ’n ingeligte bron het afgevaardigdes van die departement van water en sanitasie, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, asook amptenare van Randwater, Emfuleni Vrydag besoek.

Stanley Gaba, Emfuleni se woordvoerder, het Woensdag gesê dié plaaslike owerheid het pas R5 miljoen gekry om rioolpompe te begin herstel. “Dit kos ongelukkig R3,5 miljoen om een pomp te herstel. Hier is 44 pompstasies in Emfuleni,” het Gaba gesê.

“Die herstel van die infrastruktuur vir rioolsuiwering is nou ons eerste prioriteit,” het hy gesê.

“Sommige inwoners van Sebokeng leef letterlik in die riool. Ons moet die pompe daar so gou as moontlik herstel,” het Gaba gesê.

Emfuleni se rioolinfrastruktuur het in Mei vanjaar heeltemal in duie gestort toe die streekrioolaanleg vir Sebokeng weens sabotasie tot stilstand geruk is. In die daaropvolgende dae het 150 megaliter onverwerkte riool tot onlangs nog in die Vaalrivier beland via die Rietspruit. Duisende visse is dood en inwoners stroomaf van Parys kon nie die water drink wat die Ngwathe- plaaslike owerheid uit die Vaalrivier onttrek nie.

Intussen het die meeste rioolpompe in Vereeniging ook onder toenemende druk van rioolinvloei ingegee.

Gaba het gesê mense moet onthou die rioolafval van inwoners in die suide van Johannesburg vloei ook suidwaarts na die laagliggende Emfuleni. “Ons moet al dié rioolafval verwerk,” het Gaba gesê.

’n Ingeligte bron het gesê die R200 miljoen is nog net beloof, maar amptenare is optimisties dat dit wel binnekort in Emfuleni se bankrekening sal wees.

Die bron het gesê al die publisiteit wat Emfuleni die afgelope weke gekry het, het soveel druk op die ANC-regering geplaas dat hy net móés ingryp.

Boonop het die Menseregtekommissie ook met ’n ondersoek na menseregteskendings weens die besoedeling van die Vaalrivier, Gauteng se belangrikste waterbron, begin. Die MRK begin aanstaande week met verhore oor die situasie.

Sommige inwoners van Sebokeng leef letterlik in die riool. Ons moet die pompe daar so gou as moontlik herstel.

Vaalweekblad het Woensdag berig die Goue Driehoek-sakekamer het ook met Mkhize vergader. Barbara Creecy, Gautengse LUR vir finansies, het ook die vergadering bygewoon.

Werksaamhede aan Sebokeng se streeksrioolaanleg het ook begin. Weens sabotasie was ’n groot deel van dié aanleg tot 13 m onder die rioolwater en moes verskeie elektriese pompe vervang word.

Dié sabotasie het plaasgevind toe inwoners van Sebokeng die toegangshekke na dié aanleg twee maande lank versper het omdat hulle op werk aangedring het.

Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, het die mense sowat ses weke gelede verbied om die aanleg se toegangshekke te versper.

’n Private ingenieursmaatskappy is na wat verneem word pas ingeroep om te help met die herstel van rioolpompe en pype. Dié werk word veral in Sebokeng en Vereeniging gedoen.

Gaba het gesê die Gautengse provinsiale regering het tien vragmotors vir vullisverwydering aan Emfuleni geleen om dié diens weer aan die gang te kry.

“Ons grootse kopseer in dié opsig is inwoners van Emfuleni wat onwettige stortingsterreine rondom die woongebiede begin het,” het Gaba gesê.

Inwoners sal egter gou ’n verandering begin sien, het Gaba belowe.

Amptenare van omliggende plaaslike owerhede staan Emfuleni ook by, het Gaba gesê.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Emfuleni  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.