Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Krane hier is droog, regering help glo nie

Groot dele van Modimolle (Nylstroom), Mookgophong (Naboomspruit) en Vaalwater in Limpopo se krane is droog weens onvoldoende watervoorsiening deur ’n waterraad.

Marlene van Staden, DA-burgemeester, sê die situasie is kritiek en waterbeperkings geld reeds.

Die Donkerpoortdam buite Modimolle is bykans leeg. Dié dam was laas in Maart 2014 vol water.

Die Donkerpoortdam buite Modimolle (Nylstroom) in Limpopo is bykans leeg.

Die departement van waterwese is die afgelope paar jaar gevra om die krake in die Donkerpoort- en Welgevondendam te herstel om te voorkom dat water vermors word.

“Daar is niks daaraan gedoen nie. Dit is kommerwekkend dat geen nuwe damme in die afgelope 25 jaar in die omgewing gebou is nie, ten spyte van die groeiende bevolking,” sê Van Staden.

Volgens haar word boonop nie genoeg water van Magalies Water aan die drie dorpe verskaf nie.

“Die verskaffing van water aan dorpe is die verantwoordelikheid van die nasionale regering en ek het al gevra dat ons dringend hulp kry.”

Magalies Water sê hulle kan slegs meer water na die dorpe pomp as die munisipaliteit sy agterstallige skuld delg. Pleks van die 5,3 megaliter waarop ooreengekom is, kry hulle daagliks 4 megaliter water.

Van Staden sê die voltooiing van die Sondela-waterpompstasie sal die watertoevoer na die dorp tot 7 megaliter verhoog. “Ongelukkig word die voltooiing van die waterpompstasie vertraag.”

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, wat sedert Augustus 2016 deur ’n koalisie van die DA, EFF en VF Plus beheer word, is einde Mei onder administrasie geplaas.

Die nuwe munisipale bestuur het etlike miljoene rande se skuld van die vorige ANC-bedeling geërf.

Volgens Van Staden moet planne nou beraam word om te keer dat die drie dorpe, wat deur die droogte geraak word, nie heeltemal sonder water is nie.

“Die belangrikste is dat Magalies Water meer water aan die dorp verskaf.”

Sy sê die munisipaliteit het 12 watertenkwaens wat inwoners van water voorsien.

Die Syferfontein-kleimyn het op versoek van Van Staden onderneem om tien bykomende watertenks op te rig.

Meer oor:  Modimolle (Nylstroom)  |  Limpopo  |  Vaalwater  |  Waterbeperkings  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.