Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Drakenstein ‘finansieel gesondste’ munisipaliteit

Die Drakenstein-munisipaliteit in die Wes-Kaap spog dat hy as die “finansieel gesondste” stad in Suid-Afrika deur die nasionale tesourie aangewys is.

Dié munisipaliteit, wat die Paarl en Wellington insluit, het Vrydag in ’n verklaring gesê hy ontvang erkenning dat hy ’n balans gevind het tussen “gesonde kontantvloeibestuur en besteding op progressiewe infrastruktuurbeleggings”.

Conrad Poole, die burgemeester van Drakenstein.Foto: Liezl Davids

Conrad Poole, die burgemeester van Drakenstein, sê dit is ’n merkwaardige prestasie en die munisipaliteit is geëerd om erkenning van die tesourie te ontvang in sy verslag oor die toestand van die finansies en finansiële bestuur van plaaslike regerings tot 30 Junie 2018.

“Ons glo doeltreffende, verantwoordelike finansiële beplanning en begroting, skoon regering, hoë vlakke van uitvoering en geen verdraagsaamheid nie teenoor korrupsie is wat Drakenstein mededingend maak wat finansiële bestuur betref.”

Luidens die munisipaliteit se verklaring is hy boaan die lys van Suid-Afrika se 27 munisipaliteite met die grootste begrotings, wat die agt metropole insluit.

Drakenstein word gevolg deur die Steve Tshwete-munisipaliteit in Mpumalanga, George in die Wes-Kaap en Emalahleni in Mpumalanga.

Verlede jaar het hy die topplek met die uMhlathuze-stadsraad (Richardsbaai) in KwaZulu-Natal gedeel.

In die Wes-Kaap het Kaapstad en Stellenbosch die derde plek gedeel onder die finansieel gesondste munisipaliteite.

Die verslag van die tesourie het munisipale finansies beoordeel aan die hand van kontant as ’n persentasie van bedryfsbesteding, die voorkoms van negatiewe kontantbalanse, oorbesteding op oorspronklike bedryfsbegrotings, onderbesteding op kapitaalbegrotings, skuldenaars as ’n persentasie van inkomste, groei in skuldenaars op ’n jaargrondslag, skuldeisers as ’n persentasie van kontant en beleggings en afhanklikheid van oordragte van die nasionale en provinsiale regering.

Terwyl Drakenstein die uitdagings ervaar waaronder ander munisipaliteite ly, kom hy sy beloftes na en betaal hy skuldeisers binne 30 dae, luidens die verklaring.

Die munisipaliteit sê hy tref ook maatreëls om koste in te perk en seker te maak dat goeie rekordhouding en ouditstelsels bestaan.

“Ons pas ook begrotingsbeginsels toe wat die munisipaliteit in staat stel om tariewe, inkomste en besteding te hersien en seker te maak dat die begroting geloofwaardig is en gefokus op die gemeenskap se behoefte na dienslewering.”

Moutie Richards, ANC-leier in Drakenstein, het egter verlede Donderdag in ’n verklaring daarop gewys dat die munisipaliteit se ouditmening vir die boekjaar 2017-’18 van skoon na ongekwalifiseerd afgeneem het.

Hy het daarop gewys dat ’n finansiële verslag teen 30 Junie 2019 toon dat daar uitstaande skuld van R304 miljoen is wat nie by skuldenaars ingevorder kon word nie en dat onderverhaling van inkomste R236,8 miljoen van sy jaarlikse bedryfsbegroting beloop.

Verder is daar onderbesteding van R425 miljoen van sy bedryfsbegroting en onderbesteding van sy kapitaalbegroting van R87 miljoen.

“Eksterne lenings is buite beheer teen 77,8% van die werklike bedryfsinkomste, ondanks ’n ooreenkoms met die bank dat dit nie 70% sal oorskry nie, terwyl die nasionale norm 40% is.”

Volgens Richards het die munisipaliteit onvoldoende fondse om sy maandelikse betalings na te kom, met lae kontantreserwes in die bank.

* Die verslag van die nasionale tesourie kan HIER gelees word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.