Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Woede ontsier vreedsame tussenverkiesing
In die Ethiopia-gebied van Zamdela buite Sasolburg het inwoners Woensdag woedend gereageer toe die SAUK buite ’n stempunt met die ANC se Thabo Manyoni ’n onderhoud wou voer. Vroeër die dag moes die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Des van Rooyen, deur die polisie na veiligheid gebring word nadat ’n lid van die media buite ’n stemlokaal met hom wou gesels en die skare moeilik geraak het. Foto: Felix Dlangamandla

’n Dag wat aangebreek het as ’n vreedsame tussenverkiesing in die Metsimaholo- munisipale gebied het teen laatmiddag drama opgelewer toe die seun van ’n ANC-kandidaat weens aanranding toegesluit en ’n stembus tydelik gesluit is.

Die seun van ’n wykskandidaat het volgens die leier van die DA in die Vrystaat, Patricia Kopane, vroeër vandeesmaand tydens premier Ace Magashule se besoek aan die gebied ’n lid van die gemeenskap aangerand.

Die polisie kon hom nie vroeër opspoor nie, maar hy is Woensdag toegesluit.

Kiesers was ook woedend omdat die SAUK en nóg ’n mediagroep in twee afsonderlike voorvalle naby stempunte onderhoude met die ANC in die Vrystaat se ondervoorsitter, Thabo Manyoni, en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Des van Rooyen, gevoer het.

Die polisie moes ingryp om Van Rooyen se veiligheid te verseker. Hy het later in ’n onderhoud met EWN die skuld voor die deur van die EFF gelê.

Ontevredenheid oor kiesers se adresse wat nie op die kieserslys is nie en ’n tekort aan seksie 12-vorms het Woensdag kiesers in Metsimaholo warm onder die kraag gehad.

By een van die stempunte in die Ethiopia-gebied in Zamdela het kiesers oproerig geraak omdat geen seksie 12-vorms beskikbaar was nie.

Kiesers het Woensdag geëis dat ’n stempunt in die Ethiopia-gebied van Zamdela gesluit word omdat daar nie meer seksie 21-vorms vir adresveranderings beskikbaar was nie. Kiesers wie se adresse nie op kieserslyste is nie, moet dié vorm invul wanneer hulle stem. Die stempunt was tydelik gesluit, maar is later weer oopgemaak nadat die EFF daarop aangedring het en gesê het ontevrede mense moet ’n dispuut verklaar, maar die stembus moet oopbly. Foto: Felix Dlangamandla

Hulle het gesê die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet die stemlokaal sluit.

Godrich Gardee, ’n EFF-kommissaris, het ingegryp en aan polisielede gesê die stemlokaal moet weer oopgemaak word sodat kiesers kan stem.

As al die kiesers nie kan stem nie, moet ’n dispuut by die OVK verklaar word, maar die stempunt moet volgens wet oopbly, het Gardee gesê.

Mariette Pittaway van die DA sê kiesers is ontevrede omdat hul name en adresse tydens registrasienaweek op die kieslyste was, maar nou is sommiges se adresse verwyder.

Kiesers moet dan ’n seksie 12-vorm invul en is ontevrede daaroor. Pittaway sê die DA gaan ook ’n klag lê nadat ’n kieser gesien het sy oorlede ouma se naam is steeds op die kieserslys en dit is afgemerk as iemand wat Woensdag sou gestem het.

Die Metsimaholo- munispale gebied bestaan uit Sasolburg, Deneysville en Oranjeville.

Die verkiesing het egter meestal vlot en vreedsaam verloop. Daar was groot mediabelangstelling en joernaliste was by die meeste stempunte te sien.

Die raad van Metsimaholo is in Julie vanjaar ontbind omdat geen begroting vir die komende boekjaar goedgekeur was nie. Die raad, wat uit ewe veel opposisie- en ANC-lede bestaan het, kon nie tot ’n vergelyk oor die begroting kom nie.

Magashule het hierna die raad ontbind en ’n tussenverkiesing is Woensdag gehou sodat inwoners nuwe verteenwoordigers kon kies.

15 politieke partye en ander organisasies het mekaar die stryd aangesê. Die SAKP het die eerste keer ooit kandidate teen die ANC gestel en pres. Jacob Zuma het self die gebied besoek om verhoudinge tussen die alliansievennote te probeer herstel.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Metsimaholo  |  Stemmery  |  Verkiesing  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.