Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
3 waterkrisisse lê Bloemfontein droog
Die toevoerpyp van die Welbedachtdam na die Brandkop-reservoir in Bloemfontein het tussen Die Hoek- en Uitkyk-reservoirs naby Dewetsdorp gebars. Foto: Verskaf

Te midde van ’n groot watergeveg tussen Bloemwater en die Mangaung-metro oor betalings wat aan die watervoorsiener gedoen moet word, het ’n driedubbele waterkrisis die Rosestad Dinsdag getref.

Twee belangrike waterpype het gebars kort nadat waterlewering aan die stad Maandag weens die betalingsgeskil tot 30% verminder is.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie, sê die metro bly by sy standpunt dat Bloemwater hom sedert 2011 altesaam R311 miljoen te veel vir water laat betaal het, maar het onderneem om solank ’n bedrag te betaal soos ooreengekom.

Hy sê dit is belangrik om te noem dat die nasionale tesourie as bemiddelaar toegetree het en toesien dat aan alle wetgewing voldoen word. “Die publiek moenie verder bekommerd wees nie. Ons gaan betaal.”

Kido Thoabala, woordvoerder van Bloemwater, sê Bloemwater volstaan daarby dat die metro hom meer as R351 miljoen vir water skuld en dat dit die rede is hoekom die waterlewering tot 30% verminder is.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê verskeie woonbuurte se inwoners aan die suidekant van Bloemfontein het sedert Maandag sonder water begin sit of begin kla van swak waterdruk.

Dit sluit in Pellissier, Lourierpark, Universitas, Gardeniapark, Langenhovenpark en die Bainsvlei-hoewes.

Nog woonbuurte is teen Dinsdagmiddag hierdeur geraak, omdat die metro nie in staat was om die vereiste geldelike betalings aan Bloemwater te doen nie.

“Op dag lange samesprekings tussen die twee partye Maandag is ooreengekom dat Mangaung Bloemwater ’n aansienlike bedrag sou betaal,” sê Botes.

Netwerk24 het verneem dié bedrag is R150 miljoen.

Nadat die openbare beskermer (OB) nog vroeg Maandagoggend probeer het om dié geskille te besleg, moes die OB se kantoor self Dinsdag sluit toe daar nie water was nie.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, was Dinsdag nie op sy foon beskikbaar nie terwyl hy nagelaat het om dringende die betalings aan Bloemwater te doen, soos Maandag ooreengekom is, word verneem.

Botes sê hy moes bontstaan om na waterklagtes te luister en waterkarre te reël.

Die situasie het Dinsdagoggend vererger toe ’n tweede krisis ontstaan het deurdat ’n watertoevoerpyp tussen die Maselspoort-aanleg en Bloemfontein gebars het.

Dit het veroorsaak dat die noorde van die stad en sakeondernemings in die middestad ook sonder water gesit het. Talle ondernemings moes hul deure sluit.

Botes sê nadat dié pyp gebars het, het verskeie woonbuurte in die noorde teen Dinsdagmiddag om 14:00 geen water gehad nie of baie swak waterdruk ervaar. Dit sluit in Heuwelsig, Arboretum, Dan Pienaar, Waverley, Pentagonpark, Heliconhoogte en Noordhoek. Groot winkelsentrums soos Prellerplein, Preller Walk en Northridge Mall is ook geraak.

Kobus Louw, ’n inwoner van die noorde, sê hy het van Dinsdagoggend af nie water nie. Hy skryf dit daaraan toe dat die reservoirs by Arboretum en op Naval Hill leeggeloop het nadat die Maselspoortpyplyn gebars het.

“Boere het lankal gewaarsku oor die pyp wat nou gebars het, omdat waterlekke op die pyplyn waterdamme in hul landerye veroorsaak het.”

Volgens Botes is die plan om water met ’n ander pyplyn vanaf Maselspoort na die noordelike voorstede te pomp. Indien dié plan werk, sal dié dele dalk Woensdag deur die loop van die dag begin water kry.

Nog ’n belangrike waterpyp, die toevoerpyp van die Welbedachtdam na die Brandkop-reservoir, wat die suide van die stad van water voorsien, het later die dag ook gebars. Na wat verneem word, was kontrakteurs Dinsdagmiddag reeds op die terrein en was die aanduidings dat dit 36 uur sou duur om die pyp te herstel.

Volgens Botes is die geluk by dié ongeluk dat die Brandkop-reservoir nie leeg was nie en Dinsdagmiddag op 89% gestaan het.

Weens dié pypbreuk sal daar wel vir twee dae nie water van die Welbedachtdam na Bloemfontein oorgepomp kan word nie.

Bennie du Preez wat in Uitsig in die suide bly, het Dinsdagmiddag gesê daar is nog ’n bietjie water by sy huis, maar by sy Westdene-kantoor meer noord was die krane kurkdroog.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Qondile Khedama  |  Bloemfontein  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.