Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Eens skoon Upington ‘lyk al meer soos ’n vullishoop’
Upington, wat eens as die skoonste dorp in die Noord-Kaap bekend gestaan het, is met rommel bestrooi. Foto: Upington Concerned Citizens

Upington se inwoners is keelvol omdat hul dorp, wat eens as die skoonste in die Noord-Kaap beskryf is, al hoe meer soos ’n vullishoop lyk.

Op die Facebook-groep Upington Concerned Citizens het inwoners hul misnoeë met die Dawid Kruiper-munisipaliteit uitgespreek wat glo nie aandag gee aan onwettige vullisstorting en riool wat in die strate loop nie.

Hendrik Greyling, VF Plus-raadslid, sê die munisipaliteit word dikwels as die een munisipaliteit gesien waarmee die Noord-Kaap kan spog, maar dat die party al hoe meer klagtes van inwoners ontvang.

“Die telefoonlyne by die nooddienste is dikwels buite werking of word nie beantwoord nie en inwoners sê daar word nie aandag aan hul klagtes gegee nie.”

Die ontwrigting van die opgradering van die rioolstelsel frustreer inwoners.

“Riool loop in die strate en by woonerwe uit. Rommel wat in die rioolpype beland, vererger die probleem en skep ’n gesondheidsrisiko,” sê Greyling.

Inwoners van Upington kla dat die Dawid Kruiper-munisipaliteit nie aandag aan die rommelprobleem gee nie.Foto: Upington Concerned Citizens

Volgens inwoners is daar ’n onwilligheid by munisipale amptenare om oor naweke aandag aan probleme te skenk. “Inwoners word bloot ingelig dat die nodige stappe in die volgende week gedoen sal word.”

Patrick Williams, munisipale woordvoerder, sê die departement van siviele ingenieurswese is besig om na die rioolprobleme om te sien.

“In dié stadium kan ons span slegs aan daaglikse klagtes aandag gee. ’n Verskeidenheid faktore bemoeilik die werk aan die stelsel.”

Van dié probleme wat ondervind word, is voorwerpe soos klippe en klere wat in die rioolnetwerk gestort word en verstoppings veroorsaak. “Dit is ’n daaglike stryd om hierdie verstoppings te hanteer. Die munisipaliteit doen ’n beroep op die publiek om nie voorwerpe in die rioolstelsel te gooi nie.”

Williams sê daar is ook probleme met druk in sommige dele van die rioolstelsel.

Die telefoonlyne by die nooddienste is dikwels buite werking of word nie beantwoord nie en inwoners sê daar word nie aandag aan hul klagtes gegee nie.

Terwyl die rioolstelsel opgradeer word, word korttermynoplossings ingestel, soos om gesteelde en gebreekte deksels van mangate te vervang en om instandhouding in kritieke gebiede te doen waar mense se gedrag nie beheer kan word nie, sê Williams.

Volgens hom probeer die munisipaliteit die opgradering van die rioolstelsel sonder onderbrekings doen, maar die projek sal eers in ’n later stadium afgehandel word omdat omgewingstudies gedoen is en in ooreenstemming met die begroting hanteer moet word.

Die munisipaliteit sê hy volg die vullisverwyderingsprogram, maar die publiek stort vullis op enige plek.

“Dit dra daartoe by dat die dorp vuil is nadat dit skoongemaak is. Daar is ook probleme met die voertuigvloot, maar ons gee aandag daaraan.”

Williams het ’n beroep op inwoners gedoen om onwettige stortings met ’n WhatsApp-boodskap by 079 063 8082 aan te meld.

Meer oor:  Hendrik Greyling  |  Upington  |  Riool  |  Klagtes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.