Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Eindelik: Emfuleni takel riool

Die Emfuleni-munisipaliteit kry van verskeie oorde hulp om sy rioolkrisis te pak.

Jacob Khawe, burgemeester, sê die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) het einde verlede maand onderneem om die munisipaliteit se infrastruktuurontwikkeling te finansier.

“Dit behels ’n versnelling in die herstelwerk aan die Sebokeng­rioolaanleg,” sê Khawe.

Boonop oorweeg die munisipaliteit mobiele suiweringsaanlegte om die ontwikkelingsgroei in sy jurisdiksie te bevorder.

Die projek sal na verwagting die rioolbesoedeling oplos, werk skep en dienslewering in die Sedibeng-distrik verbeter.

Dít is van die “onmiddellike en medium- tot langtermynoplossings” vir die krisis wat Khawe verlede maand op ’n sakeontbyt met die gebied se sakeleiers bespreek het.

Meer as 150 miljoen liter rioolvuil stroom sedert 28 Mei vryelik in die Rietspruit en daarna in die Vaalrivier.

Sowat 80% van die rioolvuil kom van die Sebokeng-aanleg, wat al meer as twee maande lank weens sabotasie nie funksioneer nie, berig Elise Tempelhoff.

Netwerk24 verneem nóg sowat 50 miljoen liter rioolvuil wat daagliks in die Vaalrivier beland, kom van ander pompstasies wat buite werking is en rioolnetwerke in Emfuleni self wat verstop is.

Khawe sê dié uitdaging is ’n topprioriteit.

Behalwe die herstelwerk aan die Sebokeng-rioolaanleg, finansier die DBSA ook ’n nuwe rioolsuiweringsnetwerk in Rietspruit.

“Boonop is R3 miljoen vir die herstel van lekkasies in huishoudings in veral Sharpeville bestem,” sê Khawe.

Dit sal die Leeuwkuil-aanleg se kapasiteit verbeter.

“Dié herstelwerk van lekkasies het in Augustus vanjaar begin en sal na verwagting binne agt maande voltooi wees.”

Boonop is R3 miljoen vir die herstel van lekkasies in huishoudings in veral Sharpeville bestem.

Die departement van menslike nedersettings gaan ook twee van Emfuleni se groot rioolpompstasies (die een by die skouterrein in Leeuwkuil en een in die Leeuwkuil-suiweringsaanleg) opgradeer.

“Emfuleni het ook in November verlede jaar by die departement van water en sanitasie aansoek gedoen vir ’n toelae om 44 pompstasies op te knap. Die toelae is in Junie vanjaar toegestaan,” sê Khawe.

Emfuleni het einde Julie die eerste uitbetaling van R5 miljoen vir dié doeleinde ontvang.

Die verkrygingsproses vir dié opknapping word versnel.

Boonop het die munisipaliteit begroot vir hulpmiddels sodat interne spanne vinniger op rioolvuil kan reageer.

Emfuleni en die DBSA oorweeg ook finansieringsmodelle vir projekte soos die opknapping of vervanging van afvoerrioolpype.

“Boonop oorweeg die munisipaliteit mobiele suiweringsaanlegte om die ontwikkelingsgroei in sy jurisdiksie te bevorder,” sê Khawe.

Mobiele aanlegte maak voorsiening vir rioolsuiwering in ’n omgewing wat genoeg suurstofvlakke en beroering het.

Sodoende is daar bio-oksidasie en is die water ná die proses geskik om in strome en riviere te stort.

Meer oor:  Jacob Khawe  |  Emfuleni  |  Rioolkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.