Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Eis van R10 m. teen DA-leier

Bongani Baloyi, Midvaal se DA-burgemeester, word daarvan beskuldig dat hy amptenare intimideer en hulle vals daarvan beskuldig dat hulle by korrupsie betrokke is.

Bongani Baloyi, Midvaal se DA-burgemeester.

Thom Peeters, die adjunk- munisipale bestuurder, dagvaar Baloyi vir R10 miljoen omdat hy glo sou beweer dat Peeters geskors is weens bewerings dat mense hom betaal het in ruil vir werk by die stadsraad.

Baloyi het in April in ’n verklaring gesê Peeters gaan dissiplinêr verhoor word nadat ’n onafhanklike ondersoeker bevind het dat daar prima facie-bewyse is dat hy by “onbehoorlike werwingsprosesse” betrokke was.

Peeters meen die bewerings is van alle waarheid ontbloot en dat dit sy reputasie skade aandoen.

Hy eis nou R10 miljoen van die burgemeester.

‘Ek het in werklikheid die stadsraad geld gespaar.’

Albert de Klerk, munisipale bestuurder, het ook klagte van intimidasie teen Baloyi by die speaker ingedien nadat hy geskors is weens bewerings dat hy glo die fluitjieblaser sou intimideer wat Peeters van korrupsie beskuldig het.

De Klerk is later vrygespreek van die klagtes. De Klerk voer aan dat Baloyi hom geviktimiseer het omdat hy onder meer gekant was teen Peeters se skorsing.

De Klerk sê in sy klagte daar is geen waarheid in Baloyi se bewerings dat Peeters geskors is “vir werk vir geld” nie.

“Die burgemeester het in die openbaar verklaar dat ’n fluitjieblaser hierdie bewerings teen die adjunk- munisipale bestuurder en die lid van die burgemeesterskomitee gemoeid met korporatiewe dienste (Amelia Tshukudu) gemaak het.”

Thom Peeters, adjunk- munisipale bestuurder.

Hy sê hierdie bewerings is deur ’n senior amptenaar by die menslikehulpbronne-afdeling gemaak, wat deur die Valke ondersoek word dat sy self by die beweerde ongerymdhede betrokke was.

Die raad het volgens hom geen dissiplinêre stappe teen haar ingestel nie. “Sy kan volgens die raad se beleid nie ’n fluitjieblaser wees nie en die burgemeester het nie die reg om haar tot een te verklaar nie,” sê hy.

De Klerk beweer verder dat Baloyi hom geviktimiseer het omdat hy die burgemeester getakel het toe hy geweier het dat ’n opsporingstoestel ingevolge regulasies in die burgemeester se voertuig geïnstalleer word.

Daar was ook wrywing tussen hom en die burgemeester toe hy kapsie gemaak het teen ’n opdrag van Baloyi dat ekstra parkeerplek vir hom opgerig word sonder dat daar daarvoor begroot is. Volgens De Klerk het Baloyi daarop aangedring dat geld hertoegewys moet word vir die parkeerplek.

Albert de Klerk, munisipale bestuurder.

Hy sê die burgemeester was ook ongelukkig dat hy ’n stokkie daarvoor gesteek het om sy amptelike voertuig, ’n Audi A6, met ekstras soos ’n elektroniese bagasieruim toe te rus en om die motor meer sportief te laat lyk. Dit sou sowat R89 000 beloop het.

Hulle het ook koppe gestamp oor die skorsing van een van die burgemeester se lyfwagte, wat glo ’n vuurwapen op ’n lid van die publiek gerig het.

Volgens De Klerk het die burgemeester hom versoek om die skorsing van die lyfwag terug te hou totdat hy die jawoord gee vir die skorsing. De Klerk was ontevrede hieroor.

Baloyi ontken die bewerings.

Hy sê daar is geen waarheid in die bewerings dat hy Peeters daarvan beskuldig het dat hy kontant ontvang het in ruil vir werk nie.

“Ek het verskeie kere in die media gesê daar is geen bewyse dat iemand kontant ontvang het in ruil vir werk nie.”

Hy ontken ten sterkste dat hy ooit aangedring het op enige bykomende parkeerplek of vir enige onnodige ekstras vir sy motor.

“Ek het in werklikheid die stadsraad geld gespaar. Ek moes my private voertuig en ’n huurmotor vir drie maande gebruik. Die koste hiervoor was ’n vermorsing van die raad se geld, veral terwyl daar begroot is vir die verkryging van ’n nuwe voertuig,” sê hy.

Wat die skorsing van die lyfwag betref, sê Baloyi dat hy nooit ingemeng het in die aangeleentheid nie. Hy sê die lyfwag is in ’n dissiplinêre verhoor onskuldig bevind.

Volgens Baloyi het ’n onafhanklike ondersoeker bevind De Klerk het die fluitjieblaser onregverdig behandel en haar per ongeluk geïdentifiseer.

Meer oor:  Thom Peeters  |  Bongani Baloyi  |  Albert De Klerk  |  Midvaal  |  Dagvaar  |  Intimidasie  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.