Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Ek staan nié opsy,’ sê burgemeester oor klagte

Potchefstroom se uitvoerende burgemeester sê hy sal nie opsy staan terwyl hy en ander hooggeplaastes daarvan beskuldig word dat hulle R5 miljoen by die munisipaliteit gesteel het nie.

Willie Maphosa, woordvoerder van die J.B. Marks-munisipaliteit (wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien), het Maandag gesê Kgotso Khumalo het wel in ’n brief wat intern onder munisipale amptenare versprei is, gesê hy neem tot 9 Mei verlof.

Leon Mkhabela, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, neem sedert Donderdag in sy plek waar.

Burgemeester Kgotso Khumalo. Foto: Potchefstroom Herald

“Ons het geen amptelike inligting ontvang dat mnr. Khumalo opsy staan nie,” sê Maphosa. “Die opsystaanproses word deur die ANC bestuur, nie deur staatsinstellings nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se nasionale uitvoerende komitee het onlangs aangekondig alle ANC-leiers en -lede wat van korrupsie en ander ernstige misdrywe aangekla word, moet hul poste binne 30 dae vrywillig ontruim. Indien hulle dit nié doen nie, sal hulle geskors word.

Khumalo het Maandag beklemtoon hy is steeds burgemeester.

Dít kom nadat Chris Hattingh, DA-kiesafdelingshoof in J.B. Marks, Maandag ’n verklaring uitgereik het waarin die party dit verwelkom dat Khumalo “opsy staan”.

Hattingh het daarop gewys dat Khumalo en sy twee medebeskuldigdes se hofsaak weens beweerde diefstal en bedrog weer Vrydag in die streekhof in Potchefstroom voorkom.

“Die aankondiging (dat hy opsy staan of met verlof is) kom vyf maande nadat hulle in hegtenis geneem is en die eerste keer in die hof verskyn het. Dis heeltemal te min, te laat. Khumalo moes bedank het net nadat hy in hegtenis geneem is.”

Die DA se onlangse poging om Khumalo op ’n raadsvergadering met ’n mosie van wantroue te verwyder, het misluk nadat die ANC eenparig gestem het hy moet as burgemeester aanbly.

“Om ’n burgemeester te laat aanbly wat van diefstal en bedrog aangekla word, is strydig met verantwoordbare regering,” sê Hattingh.

Raadslid Leon Mkhabela, waarnemende burgemeester van J.B. Marks.

“Verkose openbare verteenwoordigers behoort uit skaamte te bedank wanneer hulle van sulke ernstige misdrywe aangekla word.”

Hattingh meen die feit dat Mkhabela nou waarneem in Khumalo se plek help nie veel nie.

“Mkhabela is lid van sy burgemeesterskomitee. Khumalo kan dus steeds beheer oor die uitvoerende gesag by die munisipaliteit uitoefen, terwyl hy sy volle salaris en voordele kry. Ons hoop die hofsaak word gou afgehandel sodat die geldelike wanbestuur by die munisipaliteit kan einde kry. Dis die hoofoorsaak van die ineenstorting van dienste hier.”

• Die aanklagte teen Khumalo, Cyril Hendry (’n voormalige hooggeplaaste by J.B. Marks) en Mohau Shuping (nog ’n hooggeplaaste) hou verband met geld wat na bewering onregmatig uit ’n trustrekening na hul persoonlike rekenings oorgeplaas is. Sowat R5 miljoen het glo só verdwyn.

Meer oor:  Kgotso Khumalo  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.