Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Emfuleni sonder brandweer weens staking

Die Emfuleni- plaaslike owerheid het sy buurman, Midvaal, wat onder DA-beheer is, gevra om in te gryp en in noodgevalle brande in Vanderbijlpark, Sebokeng, Vereeniging, Evaton en Sharpeville te help blus.

Dit kom nadat die sowat 130 brandbestryders in Emfuleni se diens ’n week gelede “oor verskeie loon- en arbeidsdispute” begin staak het.

Brandweerpersoneel by Midvaal, wat anoniem wil bly, het Dinsdag gesê hul telefone lui “feitlik dag en nag”. Daar was glo die afgelope week 30 brande in Emfuleni waarby Midvaal se personeel nie kon uitkom nie.

“Ons is oorwerk en voel magteloos. Daar was die afgelope week formele en informele huise wat in Emfuleni afgebrand het. Verskeie motors het ook uitgebrand. Ons kon nie daarby uitkom nie.”

Volgens een van die brandbestryders word Midvaal se amptenare geïntimideer as hulle in die omgewing van die Emfuleni- plaaslike owerheid wil help om brande te blus.

’n Amptenaar van Emfuleni, wat ook anoniem wil bly, sê niemand beantwoord die telefone by die brandweer in Emfuleni nie. “Ons hande is afgekap. Dit is ’n klap in die gesig van ’n brandbestryder wat ’n noodsaaklike diens verrig.”

Na verneem word eis die stakende brandbestryders glo oortydbetaling vir onder meer etenstye. “Dit is ’n belaglike situasie. Hier is geen leierskap nie. Die mense maak net wat hulle wil. Hulle staak elke jaar die afgelope vier jaar oor presies dieselfde kwessies,” sê die amptenaar.

Intussen het Philip Nothnagel, DA-raadslid, laat weet Emfuleni kon nie Maandag en Dinsdag vullis verwyder nie, omdat die plaaslike owerheid nie diesel vir sy voertuie het nie.

Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni- plaaslike owerheid, sê al vyf brandweerstasies in die munisipale gebied is tot verdere kennisgewing gesluit.

Hy sê die plaaslike regering is “baie bekommerd” oor die situasie. Volgens Gaba word Emfuleni se skakelbord oorval met oproepe van inwoners wat hulp soek.

Gaba sê munisipale amptenare is in gesprek met die stakende werkers.

“Ons rig dus ’n versoek aan ons inwoners om tot tyd en wyl die Midvaal- plaaslike owerheid en die brandweer by Arcelor Mittal te bel in gevalle van rampe en nood.

“Ons verstaan dat die brandweer ’n noodsaaklike diens verrig, maar ons pleit vir geduld terwyl ons die dispuut probeer oplos.

“Ons hoop ons brandweerpersoneel sal spoedig weer op hul pos wees,” sê Gaba.

Emfuleni is sowat ’n maand gelede onder gedeeltelike administrasie geplaas.

Intussen het Philip Nothnagel, DA-raadslid, laat weet Emfuleni kon nie Maandag en Dinsdag vullis verwyder nie, omdat die plaaslike owerheid nie diesel vir sy voertuie het nie.

Meer oor:  Midvaal  |  Emfuleni  |  Staking  |  Brandweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.