Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Enorme probleem’ met water in Masilonyana

Die Masilonyana-munisipaliteit (Winburg, Theunissen en Brandfort) is besig om uitmekaar te val.

Die watervoorsiening aan al drie die dorpe is onvoorspelbaar, wyl raadsvergaderings ook nie meer gehou word nie. Brandfort het tans net ’n halfuur per dag water, sê Marieta Visser, DA-raadslid van die munisipaliteit. Sy woon in Theunissen.

Visser sê die Masilonyana-raad sou op 8 Januarie vanjaar ’n raadsvergadering hou, wat toe uitgestel moes word vanweë ’n gebrek aan inligting.

Sedertdien is net een vergadering op 28 Junie gehou. Intussen het twee datums vir geskeduleerde vergaderings verbygegaan en het raadslede nie daarvoor opgedaag nie omdat hulle nie agendas hiervoor gekry het nie.

Marieta Visser, DA-raadslid van die Masilonyana-munisipaliteit.Foto: Netwerk24

Op 30 Augustus is ’n vergadering gekanselleer minder as ’n uur voor dit moes begin, en sedertdien is geen vergadering nog gehou nie.

Hierop sê Dimakatso Modise, speaker van die munisipaliteit onder wie se voorsitterskap raadsvergaderings gehou moet word, “wat is die probleem as daar nie meer raadsvergaderings gehou word nie?”

Toe sy weer gebel word nadat sy die telefoon neergesit het, het sy gesê sy is in ’n vergadering en sal ’n verslag met meer besonderhede aanstuur.

Visser sê by navraag “watervoorsiening is ’n enorme probleem en ’n mens weet nooit wanneer daar water gaan wees en wanneer nie”.

“Géén kommunikasie vind plaas nie. Daar word ook kort-kort kabels op die pyplyn gesteel.”

Visser sê uit radeloosheid het sy al by die munisipale bestuurder, Pule Tsekedi, by die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en by die nasionale departement van infrastruktuur, water en sanitasie, vir ’n oorsigbesoek gepleit, “maar niks het nog gebeur nie”.

Mokete Duma, Vrystaatse hoof van Cogta, het nie sy telefoon beantwoord toe hy gebel is nie.

Tsekedi se assistent het gesê hy is in ’n vergadering en sal nie oproepe kan ontvang nie.

Handré Alberts, skoolhoof van die Hoërskool Staatspresident Swart in Brandfort, sê dit is al ’n geruime tyd dat dié dorp omtrent net ’n halfuur per dag water het.

“Ons het 100 kinders in ons skoolkoshuis wat moet bad en eet. Ek weet nie wat sou gebeur as die skool nie boorgate gehad het nie.”

Thabo Manyoni, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Afbakeningsraad, het gerugte die nek ingeslaan dat Brandfort by die Mangaung-metro (Bloemfontein) en Winburg en Theunissen by die Matjhabeng-munisipaliteit (Goudvelde) ingelyf gaan word. “Ons het nie so ’n aansoek by die Afbakeningsraad gekry nie,” het hy by navraag gesê.

Volgens Visser is ’n groot probleem dat Eskom van tyd tot tyd die krag by wateraanlegte onderbreek vanweë wanbetalings van Masilonyana.

Sy wil weet wat die huidige status van die skuldrekenings is en watter risiko daar is vir kragonderbrekings by dié kritieke waterpunte.

Sy sê teen die einde van Augustus het Masilonyana die Sand-Vet-waterraad R8 miljoen geskuld.

Sy sê ’n ooreenkoms sou met Bloemwater (’n ander waterraad) gesluit word om die wateraanleg in Brandfort oor te neem, maar dit was op die agenda van ’n raadsvergadering wat nooit plaasgevind het nie.

Sy sê Masilonyana is in April 2017 onder administrasie geplaas, maar daar is geen verbetering by die munisipaliteit te bespeur nie en dit bly agteruitboer.

Brun Rossouw, DA-raadslid wat in Winburg woon, sê hulle het tans weer water nadat hulle drie dae daarsonder was. “Ons eenheidsbestuurder van Masilonyana gaan uit sy pad om ons te help. Ons groot probleem is by ons hoofkantoor in Theunissen waar hulle nie rugsteuntoerusting het as iets breek nie.”

Tinie Krugel, ’n gastehuis-eienaar van Theunissen, sê die munisipaliteit strompel van een krisis na die volgende. Daar is geen politieke wil om die probleme op te los nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.