Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Erfenishulpbronne-agentskap bekommerd oor Pierneef

Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronne-agentskap (SAHRA) is diep bekommerd oor die Pierneef-skildery van miljoene rande wat Ace Magashule, Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die ANC, na bewering aan sy lyfwag Ricardo Mettler gegee het.

Sarie se artikel van 13 Desember 1989 toe Louis en Louisa Botha die administrateurspaar was .Foto: Sarie
Nog 'n artikel wat oor Vrystaathuis in die Sarie van 24 Junie 1992 verskyn het toe Louis van der Watt en sy vrou, Marietjie, administrateurspaar was. Foto: Sarie
Nog 'n artikel oor Vrystaathuis wat in Sarie van 24 Junie 1992 verskyn het toe Louis en Marietjie van der Watt die administrateurspaar was. Foto: Sarie

So sê Cuan Hahndiek van die SAHRA by navraag.

Hy sê die agentskap is ook bekommerd oor ander skilderye, duur Persiese matte en ander erfstukke wat moontlik in die slag kon gebly het.

Hahndiek sê die SAHRA het nooit voorheen ondersoek ingestel na die behoud van erfenisstukke in die Vrystaatse premierswoning en -kantoor nie.

Hy sê Erfenis Vrystaat het wel in 2015-’16 ’n oudit van standbeelde gedoen, wat beweeglike beeldhouwerk en monumente ingesluit het, maar niks in besit van die premier nie.

Hy sê volgens artikel 9 van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne moet elke staatsdepartement en ondersteunende liggaam die erfenisstukke in sy besit onderhou en beskerm. Die SAHRA moet gekontak word voordat iets in staatsbesit vervreem kan word.

“Die SAHRA het geen versoek van die Vrystaatse premier se kantoor gekry om erfenisbates te vervreem nie. Die SAHRA is baie bekommerd oor wat gebeur het en gaan beslis die saak verder ondersoek, al is die Valke van plan om die skildery aan die Vrystaatse regering terug te besorg.”

Intussen sê Louisa Botha (75), van 1980 tot 1991 Vrystaatse administrateursvrou, sy onthou nog elkeen van die pragtige skilderye, peperduur Persiese en ander matte, breek-, glas- en silwerware van die destydse Vrystaatse administrateurswoning in Bloemfontein.

Botha woon deesdae in ’n aftreeoord in Bethlehem nadat haar man, Louis, haar bykans 20 jaar gelede ontval het.

“Ek onthou nog die Tinus de Jongh-skildery – ’n blou landskap van 100 cm by 68 cm, die Gregoire Boonzaier (van 35 cm x 60 cm) se bloekombome, en die Terrance McCaw, ’n stillewe van blomme, van 55 cm by 70 cm.”

Die Pierneefskildery van tussen R6 miljoen en R8 miljoen wat Magashule na bewering vir Mettler gegee het, het daardie jare reeds in die Vrystaatse administrateur se kantoor gehang.

Dr. Basie Olivier, destyds die Bothas se private sekretaris wat steeds in Bloemfontein woon, sê hy onthou dié besonderse skildery.

“Dit het reg voor Louis Botha, die administrateur, se lessenaar gehang. As hy opgekyk het, het hy daarin vasgekyk.”

Olivier het ook knipsels van kleur-artikels oor Vrystaathuis bewaar wat in daardie jare in die vrouetydskrifte Sarie en Rooi Rose verskyn het.

Maar wat het van al dié kosbaarhede geword?

Tiisetso Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, en voormalige woordvoerder van Magashule, weier om ’n afskrif van die inventaris van Vrystaathuis en die Vrystaatse premierskantoor aan Netwerk24 te verskaf omdat die Valke ondersoek instel na die Pierneef-skildery wat Magashule glo vir Mettler gegee het.

Olivier sê Jan Botes, wat vroeër in die Vrystaatse premier se kantoor gewerk het, het ook in ’n stadium glo ’n Pierneef-skildery van die kantoor op ’n vullishoop opgetel, wat hy weer in die kantoor opgehang het.

Botes kon nie self vir kommentaar opgespoor word nie.

Mmusi Maimane, DA-leier, het in sy kommentaar gesê die debakel met die Pierneef-skildery “spruit uit korrupsie”. “Ons gaan nie rus voordat Magashule in die tronk is nie.”

Ntombela sê sy het ’n vergadering met die direkteur-generaal, Kopung Ralikontsane, oor die Pierneef-skildery gehou. “Sover ons kon vasstel, is dit al wat weg is.”

Op ’n vraag oor wat by die Vrystaatse premierswoning weg is, sê sy: “Niks, sover ek weet nie.”

Gadija Brown, hoof van die Vrystaatse departement van openbare werke wat verantwoordelik is vir die goedere in Vrystaathuis, het nie haar foon beantwoord toe sy verskeie kere gebel is nie.

Kapt. Lloyd Ramovha van die Valke het by navraag gesê die ondersoek na die Pierneef-skildery is steeds in ’n navraag-stadium om vas te stel of enige misdaad gepleeg is. Indien wel, sal ’n strafregtelike klag ingedien moet word.

“Ons kan nie name noem nie omdat niemand nog van enigiets aangekla is of in die hof verskyn het nie.”

Nog 'n artikel wat oor Vrystaathuis in Sarie verskyn het toe Louis en Marietjie van der Watt die administrateurspaar was. Die artikel het op 24 Junie 1992 verskyn. Foto: Sarie

Botha onthou ook die volgende items wat in Vrystaathuis was:

* ’n Dawid Botha-skildery van 90 cm by 70 cm van huise by Waenhuiskrans;

* ’n Skildery van ’n onbekende skilder van ’n Sotho-man op ’n perd;

* ’n Maggie Laubser-skildery;

* ’n Kirman Burgundy-mat van 3,7 m by 4,3 m in die eetkamer;

* ’n Geel-en-blou Kirman-mat van 1,12 m by 2,8 m;

* ’n Mezed- of Yzed-mat van 3,7 m by 4,6 m;

* ’n Koningsblou met grys Saruk-mat van 2,5 m by 3 m wat by die rooi trap gelê het;

* ’n Donkerblou Qum-gebedemat van 80 cm by 110 cm

* ’n Tapyt van pienk, bruin en mintgroen in die skryfkamer;

* ’n Blou en bruin tapyt in die studeerkamer;

* ’n Losgeweefde tapyt met sterk ontwerpe;

* ’n Vuurskerm waarop die Vrystaatse wapen deur Ansie Heyns geborduur was.

Botha vertel van ’n vuurskerm waarvan die borduurwerk gemaak is deur die destydse skêrmoordenares Marlene Lehnberg en wat ontwerp is deur die baie begaafde Hetsie van Wyk.

Botha sê sy het nog self die borduurgare vir Lehnberg in die tronk in Kroonstad geneem.

Botha sê op Vrystaathuis se inventaris was ook ’n stel met 72 stukke silwermesse en -vurke en ’n stel van 30 stukke van Noorweegse staal, ’n 72-stuk Royal Albert-eetstel en ’n Noritake-stel van 30 stukke.

“Ek het genoeg eetgerei gehad om vir 100 mense gelyk ’n aansitete te kon gee. Die stinkhout-eetkamerstel met 24 sitplekke was besonder stylvol.”

Meer oor:  Valke  |  Ace Magashule  |  Pierneef  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.