Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Eskom kry 139 plase as sekuriteit vir kragskuld

Eskom het Dinsdag 139 plase van die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom) as sekuriteit gekry totdat die skuldgeskil tussen hulle afgehandel is.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het ’n ooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit ’n bevel van die hof gemaak. Die waarde van die plase word op R2,5 miljard geraam en die titelaktes sal aan Eskom oorgedra word totdat die geskil bygelê is.

Eskom sê in ’n verklaring dit kom nadat die munisipaliteit herhaaldelik nie by sy afbetalingsooreenkomste gehou het nie.

Daar is ook ooreengekom dat die munisipaliteit sy hofaansoek terugtrek waarin hy vra vir die tersydestelling van ’n beslagleggingsbevel op sy bankrekening.

Eskom het op 4 September beslag gelê op die munisipaliteit se bankrekening.

Ingevolge die ooreenkoms het Eskom ingestem om die bankrekening aan die munisipaliteit terug te gee op voorwaarde dat die R2,7 miljoen in die rekening in die balju se sorg bly.

Eskom was sedert 2014 in verskeie hofsake gewikkel om agterstallige skuld uit die Matjhabeng-munisipaliteit te kry.

In daardie stadium het die Matjhabeng-munisipaliteit Eskom R372 miljoen geskuld. Dié skuld het egter mettertyd opgeloop tot die R3,4 miljard waarop dit nou staan.

Dié munisipaliteit, die tweede grootste in die Vrystaat, skuld ook sy grootmaatwaterverskaffer, Sedibeng Water, miljarde rande.

Munisipaliteite in Suid-Afrika het Eskom einde Julie vanjaar R31 miljard geskuld, sê Eskom in die verklaring.

• Eskom het ook Maandag verlof tot appèl gekry teen ’n beslissing van die hooggeregshof in Pretoria in sy regstryd met die Vaalrivier-ontwikkelingsvereniging, die Lekwa-belastingbetalersvereniging en die Ngwathe-munisipaliteit.

Die hofaansoeke spruit uit dispute met Eskom, wat sê die Ngwathe-munisipaliteit is net geregtig op ’n sekere hoeveelheid krag per dag.

Die munisipaliteit sê egter dié ooreenkoms is meer as tien jaar oud en die bevolking het so gegroei dat die vraag die verskaffing oorskry.

Parys, hoofdorp van die Ngwathe-munisipaliteit, moet sy eie beurtkrag toepas om te voorkom dat sy substasie oorlaai word en uitbrand.

Dit veroorsaak dat die dorp se rioolaanleg by tye nie krag het nie en rioolvuil regstreeks in die Vaalrivier vloei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.