Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Eskom, munisipaliteit gooi modder

’n Nuusberig dat die hooggeregshof hom beveel het om met die Matjhabeng-munisipaliteit te vergader is ’n leuen, het Eskom Donderdag gesê.

Die kragverskaffer het ’n bevel gekry om op die munisipaliteit se bankrekening beslag te lê waarna die munisipaliteit ’n hofaansoek gebring het.

Die hooggeregshof het Eskom op 10 September beveel om die bankrekening aan die munisipaliteit terug te gee, maar dat hy die aktes van 239 plase van die munisipaliteit as sekuriteit vir die skuld van R2,5 miljard mag hou.

Matjhabeng het volgens ’n mediaverklaring van Piet Botha, ’n DA-raadslid, Woensdag gesê die hooggeregshof in Bloemfontein het Eskom beveel om binne 21 dae in goeder trou met Matjhabeng te vergader.

Eskom sê egter die hof het nie so ’n bevel gemaak nie.

Bertus Maritz, regsadviseur van die munisipaliteit, het Donderdag gesê hy is verkeerd aangehaal.

Hy sê die munisipaliteit vra al lank vir ’n vergadering met Eskom, maar Eskom weier.

Lucian Companie van die regsfirma Phatsoane Henny, sê die munisipaliteit het nog nooit vir ’n vergadering gevra nie.

Botha het Woensdag gesê die party verwelkom die hofbevel dat Eskom nou gedwing word om die vrae en kwessies te beantwoord en uitsluitsel te gee oor sake waaroor hulle verskeie jare al weier om inligting aan die raad te verskaf.

Dit blyk egter dat die hofbevel, wat in Netwerk24 se besit is, Eskom nie beveel om enige vrae te beantwoord nie.

Stefanie Jansen van Rensburg, Eskom se woordvoerder in die Vrystaat, sê Eskom is geensins beveel om enige van die heffings te verduidelik nie, soos die DA of munisipaliteit beweer nie.

Jansen van Rensburg sê al Eskom se rekeninge gee ’n uiteensetting van die bedrae wat gehef word.

“Dit is in ooreenstemming met regulasies en normale sakepraktyk,” sê sy.

Sy sê ook die munisipaliteit het ondanks onderhandelinge oor ’n lang tydperk nog nooit ’n dispuut met Eskom verklaar nie.

Jansen van Rensburg sê die koste wat Eskom verhaal waarna die DA in sy verklaring verwys, word in die maandelikse rekening uiteengesit en is deur Nersa goedgekeur.

Maritz sê Eskom verskaf aan woonbuurte onder munisipale beheer krag. Dit ontneem die munisipaliteit van ’n inkomstebron en lei daartoe dat mense nie vir ander dienste wil betaal nie.

Hy sê as die munisipaliteit die krag verskaf, het hy ’n hefboom waarmee hy inwoners kan dwing om ook vir ander dienste te betaal.

“Dié kwessie het dus ook veroorsaak dat ons miljarde aan water skuld.”

Hieroor sê Eskom hy het al bewys gelewer dat hy in ooreenstemming met ’n ooreenkoms wat in 1994 aangegaan is, wel geld aan Matjhabeng oorbetaal.

Eskom sê hy het al aan die munisipaliteit gevra aan watter vereistes hy nie voldoen nie, maar Matjhabeng het nie hierop gereageer nie.

Maritz hou vol Eskom wil nie met die munisipaliteit vergader nie en sê die kragverskaffer skuld 265 munisipaliteite geld, en nie andersom nie.

Maritz sê Eskom beantwoord nie eens e-posse wat Matjhabeng aan hom stuur nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.